Fondsinsameling vir R’tein se daaglikse uitdagings
Motiveringsspreker bring 'n roerende boodskap in Helikonpark.
Lynette Beer, ‘n motiveringspreker het op Woensdag, 20 September by die NG Kerk Helikonpark die gehoor laat lag dat die trane loop. Sy het terselfdertyd ook ‘n roerende boodskap in elkeen se harte gelaat …
‘n Geraamde 350 gemeenskapslede het die aand bygewoon waartydens die RLS-groep fondse ingesamel het vir die niewinsgewende organisasie Living Links Wellness.

Lynette is een van Suid-Afrika se inspirerendste motiveringsprekers oor persoonlike ontwikkeling en korporatiewe groei. Sy kan effektief met mense van alle ouderdomsgroepe kommunikeer.
Sy slaag daarin om mense te lei om hul ware innerlike krag te ontdek en verduidelik op haar unieke, vermaaklike manier hoe om dit prakties toe te pas. Sy het ‘n ongelooflike humorsin en is baie gewild as spreker en afrigter in onderwerpe soos temperament, persoonlikheidstyle, leierskap, selfontwikkeling, korporatiewe sagte vaardighede en die hantering van mense wat emosioneel seergekry het.

“Ons wil die kinders in die gemeenskap in nood help en dit is ook ‘n wonderlike geleentheid om die organisasie ten toon te stel,” het hoof uitvoerende beampte van Living Links, Sonja van Tonder gesê. Volgens eiendomsagent Elize Erasmus wil die groep terugploeg in die gemeenskap en daarom het hulle die aand gereël.
“Ek wil graag elke persoon bedank wat hierdie aand so ‘n groot sukses gemaak het. Sonder ons borge, kollegas en die gemeenskap sou dit nie kon slaag nie,” het Polomino-eiendomme se Prinsipaal, Amanda Nel gesê.

Die groep beplan om binnekort ‘n soortgelyke funksie aan te bied om die nood in R’tein te probeer verlig. Hulle glo dat die sukses van die aand hulle in staat sal stel om ‘n groot verskil te maak in die gemeenskap wat in nood verkeer.
Living Links is betrokke by –
• Sosiale en emosionele assessering
• Forensiese ondersoek
• Ouerleiding
• Beradingsdienste
• Arbeidsterapie
• Mediasie
• Spraakterapie
• Sielkundige dienste
• Spelterapie
• Volwassene-terapie
• Remediërende leerondersteuning
• NLP-lewensafrigting
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n e-pos na randfonteinherald@caxton.co.za (onthou asseblief om jou kontak besonderhede by te voeg) of skakel ons by 011 693 3671.
Vir daaglikse gratis gemeenskapsnuus aan die Wes-Rand, besoek ook ons susterkoerante se webtuistes
Roodepoort Record
Krugersdorp News
Get It Joburg West Magazine
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie om jou stem te laat tel!



