Weggooigoed is hougoed
Vrou, 82, van West Porges het ongeveer 25 jaar gelede iets op 'n ashoop ontdek wat haar lewe verander het.

Hessie Vogel, 82, van West Porges het ongeveer 25 jaar gelede iets op ‘n ashoop ontdek wat haar lewe verander het.
Hessie en haar kind het destyds staal bymekaar gemaak en verkoop om te kon oorleef. Eendag het hul op soek na staal op drie poppe afgekom.
“Hulle was flenters en in ‘n baie slegte toestand – die een het nie eers oë gehad nie,” het Hessie gesê.
Sy het die poppe huis toe geneem waar sy hulle skoongemaak, opgestop en vir die een nuwe oë gegee het. Sy het vir elkeen van die poppe ‘n doek aangesit.
Sy het ook drie poppe wat almal oor die 60 jaar oud is. Sy het aan die Herald vertel dat sy van kleins af lief is vir poppe. Haar eerstes was lappoppe. Haar man het vir elkeen van haar dogters ‘n pop gekoop toe hulle nog klein was en sy het later die poppe teruggekry. Sy het besluit om die poppe na haar kinders te vernoem en hulle het oor die jare soos haar eie kinders geword. Sy trek elke ses maande vir hulle nuwe klere aan en hulle slaap in ‘n bababedjie in haar kamer.
“Elkeen het ‘n spesifieke plek waar hulle bedags sit en snags slaap, en saans maak ek hulle met ‘n kombers toe,” het Hessie vertel.
Sy gesels met die poppe en brei vir hulle nuwe klere. Enigiets wat mens vir ‘n regte baba sou doen, doen Hessie vir haar ‘kinders’. Sy spog ook graag met hulle by besoekers. Daarbenewens pronk daar ‘n verskeidenheid porseleinpoppe oral in haar huis.
Hessie het vertel dat min mense van haar popversameling weet, en dat daar tans ‘n kompetisie by die kerk aan die gang is om haar oudste pop se ouderdom te skat.
Haar grootste droom is dat haar poppe eendag in ‘n poppemuseum bewaar sal word. Sy het reeds navorsing in dié verband begin doen en dit is ook ‘n bepaling in haar testament.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n e-pos na randfonteinherald@caxton.co.za (onthou asseblief om jou kontak besonderhede by te voeg) of skakel ons by 011 693 3671.
Vir daaglikse gratis gemeenskapsnuus aan die Wes-Rand, besoek ook ons susterkoerante se webtuistes
Roodepoort Record
Krugersdorp News
Get It Joburg West Magazine
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie om jou stem te laat tel!



