Musiekstudente bekoor met Kersliedere
By die 60 musiekstudente het die afgelope naweek byna 400 gemeenskapslede tydens 'n kerssangdiens vermaak.
Die Letzi Lottering Musiekskool het tydens ‘n Kerssangdiens op Sondag, 5 November die gemeenskap met hul talente bekoor.
Die diens is gehou by die AGS Groen Weivelde waar die musiekskool met ope arms verwelkom is. Die blokfluit-, kitaar- en tromspelers, asook die sangers het die gehoor met Kersliedere vermaak.
Die musiekskool is bekend vir leerders met vele talente. Letzi Lottering, eienaar en afrigter is reeds 32 jaar in die musiekbedryf en sedert 1992 in Randfontein betrokke. Dié Kerssangdiens was die 15de een waarby sy betrokke was en 60 van haar studente het die aand hul talente ten toon gestel.

“Ons wou graag teruggee aan die gemeenskap en ook dankie sê omdat die Here ons so deur die jaar seën,” het Letzi gesê.
Meer as 400 gemeenskapslede het die leerders kom ondersteun en terselfdertyd na Manuel Escorcio, ‘n bekende ikoon in die musiekbedryf geluister.
Die musiekskool het ook niebederfbare produkte tydens die geleentheid ingesamel wat aan minderbevoorregtes uitgedeel sal word. Fondse is ten bate van die kerk ingesamel.
Letzi het aan die Herald vertel dat die aand ook ‘n viering was van die leerders se prestasies tydens die Raca- en Noordwes-kunstefees.
Die skool het onderskeidelik 151 diamant- , 203 platinum- en 12 gouetoekennings verwerf. Die ATKV het ook ‘n toekenning aan die skool oorhandig vir die bevordering van musiek en kultuur in die dorp.
Die aand was ‘n reuse sukses met trane van blydskap, maar ook hartseer wat gevloei het. Die musiekskool het tydens die geleentheid van Letzi se seun Quintin en sy vrou afskeid geneem wat binnekort Kanada toe verhuis. Quintin is ‘n bekende figuur in die gemeenskap.
Ek wil graag almal bedank wat die aand moontlik gemaak en bygewoon het. Dit is vir my wonderlik om die studente ‘n geleentheid te gee om hul talente ten toon te stel,” het Letzi gesê.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n e-pos na randfonteinherald@caxton.co.za (onthou asseblief om jou kontak besonderhede by te voeg) of skakel ons by 011 693 3671.
Vir daaglikse gratis gemeenskapsnuus aan die Wes-Rand, besoek ook ons susterkoerante se webtuistes
Roodepoort Record
Krugersdorp News
Get It Joburg West Magazine
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie om jou stem te laat tel!



