Rolprent oor Toekies hierdie Saterdag!
'n Rolprent geïnspireer deur ’n ingrypende geskiedkundige oorlog, kom na Randfontein hierdie Saterdag.
Die ATKV-tak van Toekomsrus sal Saterdag ‘n vertoning van die nuwe onafhanklike rolprent, Toekomsrus ons erfenis aanbied.
Die rolprent word op 11 November by die Da’side Venue, Fiatstraat 14, Aureus, Randfontein vertoon. Dit begin om 3nm af en die toegang beloop R70 per volwassene en R40 vir kinders onder 13. Die hele gemeenskap word uitgenooi. Dit is ‘n Afrikaanse fliek met Engelse onderskrifte.
Meer oor die rolprent:
Toekomsrus ons erfenis is die verhaal van ontworteling in die 1970’s na aanleiding van die Wet op Groepsgebiede 41 van 1950. ’n Getroude paartjie word neergegooi op vervloekte grond in ’n lokasie met die naam van Toekomsrus. Die rolprent is geïnspireer deur ware gebeure.
Ons leer dat die verlede ’n manier het om terug te kom om by ons te spook. Dit is nie beter om sekere dinge te verswyg nie. Dit moet in ons eie stemme uitgespreek word sodat dit reggestel kan word en tot versoening kan lei.
Soms erf ons dinge wat nie goed is nie. Soms erf ons gebrokenheid, verlies en eensaamheid. Toekomsrus ons erfenis leer ons dat ons nie altyd ons erfenis kan kies nie, maar dat ons wel die vermoë het om dit ten goede te verander as ons bereid is om die waarheid in die gesig te kyk en saam te staan. Die krag van een persoon word belig in hierdie drama wat toon hoe daardie persoon se soeke na die waarheid ’n hele gemeenskap red.
Die rolprent ontgin hierdie kwessies en ontbloot al die geheime van en leuens oor een van die oudste bruin townships aan die Wes-Rand. Die huise is gebou op geskiedkundige grond met ongemerkte grafte van soldate wat gesterf het tydens die Jameson-inval in 1896; dieselfde slagveld wat aanleiding gegee het tot die tweede Anglo-Boereoorlog. Dis heilige grond wat nou erken en eerbiedig moet word.
Die doel van die vertoning van Toekomsrus ons erfenis by Da’side Venue in Randfontein is om die grootste opelugvertoning aan die Wes-Rand te wees. Ongeveer 1 000 gaste word verwag. Daar sal ’n mark wees met verskillende stalletjies met kunswerke, handwerk, kos en drankies asook allerlei pretaktiwiteite vir kinders én grootmense.
• Kontak Jacelyn by 083 436 3037.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n e-pos na randfonteinherald@caxton.co.za (onthou asseblief om jou kontak besonderhede by te voeg) of skakel ons by 011 693 3671.
Vir daaglikse gratis gemeenskapsnuus aan die Wes-Rand, besoek ook ons susterkoerante se webtuistes
Roodepoort Record
Krugersdorp News
Get It Joburg West Magazine
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie om jou stem te laat tel!



