Local newsNews

Geen keer aan Sannelé nie

Haar inspirasie kom van orals en alles wat mooi is in die omgewing. Kuns is vir haar 'n terapie, kleur het waardes en beeld emosies uit.

Sannelé Esterhuizen, 51, woon die afgelope 29 jaar in Randfontein en is ‘n bekende figuur in die gemeenskap.

Sy was nie net ‘n onderwyseres by ‘n plaaslike skool nie, maar ook ‘n kunstenaar in murg en been. Sy is die trotse ma van twee kinders en drie kleinkinders.

Sannelé hou van helder kunswerke.

Sannelé het reeds op skool haar kreatiwiteit beoefen met kuns as vak. Na skool wou sy graag in die reklamewese studeer, maar het toe onderwys gekies. Gedurende haar onderwysloopbaan het sy in verskeie leerders se lewens ‘n verskil gemaak, hetsy op die atletiekbaan, netbalveld of in die klaskamer. Ongeveer 23 jaar gelede het sy weer begin skilder en kunsklasse by bekende kunstenaars geneem, onder andere by Freda van der Merwe. Sy het ook by die skool begin om die dekor vir verskeie funksies te doen. Haar passie vir kuns het weer ingeskop en kort voor lank het sy kuns as vak aangebied.

“Ons het begin om kunsuitstallings te hou; afslagaande om die kinders se kuns te verkoop. Die saal was vol kunswerke en die kinders het van oor tot oor geglimlag,” het Sannelé gesê.

Ongeveer twee jaar gelede is Sannelé met ‘n seldsame siekte gediagnoseer wat al haar onwillekeurige spiere aantas. Sy kan egter nie meer skool gee nie en ook nie meer sport beoefen nie. Daarom het sy besluit om meer tyd aan kuns te bestee.

Alhoewel sy slegs twee of drie uur per dag kan skilder, voel dit vir haar of sy uiteindelik kan doen wat sy nog altyd wou.

“Die siekte hou my nie terug nie. Ek het geleer hoe om daarmee saam te leef. As ek dubbelvisie kry dan slaap ek; as ek nie kan praat nie, dan bly ek stil en as ek nie kan loop nie, rus ek,” het Sannelé gesê.

Haar kuns is vir haar ontvlugting om besig te bly en haar talente te gebruik. Sy het egter meer waagmoed as ooit tevore en geen uitdaging is vir haar te groot nie.

Haar inspirasie kom van orals en alles wat mooi is in die omgewing. Kuns is vir haar ‘n terapie, kleur het waardes en beeld emosies uit.

Sannelé se kunswerke is so helder soos haar persoonlikheid en haar wil om te leef. Haar droom is om eendag te kan sê dat sy mense gehelp het, ander geïnspireer het en ‘n verskil gemaak het deur middel van haar kuns.

Haar kunswerke is op haar Facebook-blad te sien onder die naam Kunswerke van Sannelé Esterhuizen.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n e-pos na randfonteinherald@caxton.co.za (onthou asseblief om jou kontak besonderhede by te voeg) of skakel ons by 011 693 3671.

Vir daaglikse gratis gemeenskapsnuus aan die Wes-Rand, besoek ook ons susterkoerante se webtuistes 

Roodepoort Record

Krugersdorp News

Get It Joburg West Magazine

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie om jou stem te laat tel!

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Randfontein Herald in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button