Raadslid van Wyk 8, Regetta Beaufort, is baie ontsteld oor die toestand van die Toekomsrus Gemeenskapsaal. Sy het vir die Herald van haar frustrasies vertel.
Eerstens het sy gesê dat die gemeenskap – ook die bejaardes op Dinsdae, Woensdae en Donderdae – ‘n groot bedrag aan huurgeld moet betaal as hulle die saal vir samekomste, troues en funksies wil gebruik. Dan moet hulle boonop nog hul eie toerusting bring.

“Ek kan nie verstaan waarheen die gelde gaan nie. Die munisipaliteit moet dit sekerlik gebruik om die saal in stand te hou?” het Regetta gesê.
“Daar is bedags een persoon wat daar werk, maar daar is geensins sekuriteit nie, veral nie saans nie.”
Die dakke is in ‘n baie slegte toestand, van die vensters kan nie oop- of toemaak nie. Die stoof werk nie, en meeste van die vrouetoilette is nie bruikbaar nie. Die manstoilette is glo ook heeltyd verstop.
Die verhoog se gordyn is stukkend, en die agterste gordyne werk glad nie. Die tafels wat daar is, is gebreek en in ‘n baie swak toestand. “Die saal is baie belangrik vir die gemeenskap. Hoekom doen die munisipaliteit niks om dit op te knap nie?” het sy kwaad gesê.

Regetta het vertel dat sy die saak met Mzi Khumalo, Burgermeester van die Rand West City Plaaslike Munisipaliteit bespreek het en boonop die probleme al drie keer aan die munisipaliteit voorgelê het, maar hulle sê telkens daar is nie fondse nie.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n e-pos na randfonteinherald@caxton.co.za (onthou asseblief om jou kontak besonderhede by te voeg) of skakel ons by 011 693 3671.
Vir daaglikse gratis gemeenskapsnuus aan die Wes-Rand, besoek ook ons susterkoerante se webtuistes
Roodepoort Record
Krugersdorp News
Get It Joburg West Magazine
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie om jou stem te laat tel!



