Help dapper meisie stry teen septisemie
Fondsinsameling beplan vir 10-jarige Divenette Streicher.
Sakevroue Lizelle Colsby, 24, en Liezel Lotriet, 32, het besluit om hul harte vir Divenette Streicher, 10, oop te maak.
Op Saterdag, 2 Junie gaan hulle ‘n fondsinsameling hou vir dié dogtertjie wat reeds agt weke lank in isolasie in ‘n hoësorgeenheid in Mediclinic Kloof Hospitaal in Pretoria is nadat sy septisemie opgedoen het.
Divenette is op 14 Februarie vanjaar na ‘n privaat dokter geneem nadat sy reeds twee dae lank van maagpyn gekla het. Die dokter was oortuig dat Divenette blaas- en nierpypontsteking gehad het en het vir haar antibiotika voorgeskryf. As dit nie sou help nie, moes haar ma haar terugbring sodat daar bepaal kon word of dit dalk blindedermontsteking was wat die pyn veroorsaak het.

“Sy het egter aanhou verswak en op 19 Februarie het ons haar na ons ander dokter geneem. Hy het vir ons gesê dat Divenette se blindederm reeds gebars het,” het haar ma, Minette vertel. Sy het dieselfde dag ‘n noodoperasie ondergaan nadat haar blindederm volgens die dokters reeds ses dae tevore geskeur het en ook haar ander organe besmet het.
Weens die erge infeksie is sy kort-kort teater toe geneem om dit te probeer behandel, maar Divenette het septisemie opgedoen, het Minette bygevoeg.
Nagenoeg drie maande en 15 teatersessies later is Divenette steeds verskriklik siek. Sy het twee stomatjies en was al sewe dae lank in die hospitaal se intensiewesorg-eenheid waar sy hard om oorlewing moes veg.
“Ons het geweet ons moes haar uit die staatshospitaal kry omdat ons gesien het hoe ons kind besig is om die stryd te verloor. Danksy die publiek se oop harte kan sy nog in Kloof Hospitaal behandel word. Ongelukkig kan die professor wat haar behandel nie vir ons sê hoe lank dit sal neem voordat haar organe weer behoorlik sal funksioneer nie. Die grootste gedeelte van die derm kan ook nog nie geheg word nie en moet oop bly,” het Minette vertel.
Na byna 14 weke moet Divenette van voor af leer eet en om reg te loop.
“Sy het nog ‘n baie lang herstelpad voor, maar die Here gee ons krag. Sy sal nie hierdie jaar kan teruggaan na haar skool, waar sy in Graad 5 is nie,” het Minette vertel. Daar is ook ‘n Facebook-blad vir haar geopen, naamlik Divenette Streicher Brave Little warrior of God.”
Minette en Divan, Divenette se pa, is albei entrepreneurs wie se besighede swaar trek terwyl hulle dag na dag by hul kind se hospitaalbed waak. Divenette het ook ‘n agtjarige boetie.

Die fondinsameling gaan op Grootjie se Kombuis en SMH Hair Studio se perseel plaasvind. Die haarsalon gaan ook spesiale afslag gee, en lekker kos gaan te koop wees.
“Dit is ‘n pretdag waartydens kinders op die springkasteel kan kom speel, en ouers hulself kan bederf. Al is dit net ‘n R10, elke sent tel,” het Lizelle gesê.
Diegene wat nie die fondsinsameling kan bywoon nie, en ‘n donasie wil gee, kan vir Lizelle skakel by 071 163 8313, of die webblad besoek by: https://www.armsofmercy.org.za/call-for-donations/donate-divenette-streicher-child-medi-organization-fund/.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n e-pos na randfonteinherald@caxton.co.za (onthou asseblief om jou kontak besonderhede by te voeg) of skakel ons by 011 693 3671.
Vir daaglikse gratis gemeenskapsnuus aan die Wes-Rand, besoek ook ons susterkoerante se webtuistes
Roodepoort Record
Krugersdorp News
Get It Joburg West Magazine
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie om jou stem te laat tel!



