Local newsNews

Tambotie is gasheer vir blommeskou

Blommekuns uit die boonste rakke is onlangs in Tambotie Mall ten toon gestel.

Lede van die Wisteria Blommeklub het verlede week met trots hul ontwerpe in Tambotie Mall ten toon gestel.

Die blommeskou is van Donderdag, 24 tot Sondag, 27 Mei gehou. Dis is volgens Leon Hefer, voorsitter van die klub, ‘n jaarlikse geleentheid.

“Alle blommerangskikkers – amateurs en professionele blommekunstenaars – kon aan die kompetisie deelneem. Dit bied alle lede die geleentheid om hul kunsvorm aan die publiek ten toon te stel en om ander belangstellendes te werf om by die klub aan te sluit.”

Die Herald was Vrydag, die dag nadat die rangskikkings voltooi is, saam met die drie beoordelaars daar.

Helene Barnard, Marelie van Schalkwyk en Janette Fick is lede van die Gauteng Flora Unie wat by die Wêreldblomme Unie (Wafa) geaffilieer is. Helene is die voorsitter van ‘n blommeklub in Pretoria, Marelie is die voorsitter van die onderrigpaneel van die Gauteng Flora Unie en Janette is ‘n lid van die onderrigpaneel. Marelie het verduidelik hoe hulle as beoordelaars te werk gaan.

Die beoordelaars Janette Fick, Helene Barnard en Marelie van Schalkwyk kyk na ‘n ontwerp.

“Ons kyk na die hele ontwerp (rangskikking). Daar is reëls waaraan dit moet voldoen. Ons is beslis beïndruk met die standaard van die 28 ontwerpe wat hier ten toon gestel word,” het sy gesê.

Leon het verduidelik dat daar vier kategorieë is wat beoordeel word, naamlik Beginners-, Middelbaar-, Gevorderd- en Ope-kategorie. Die onderskeie kategorieë het hul eie temas en vereistes gehad.

In die Beginners-kategorie met die tema ‘Sonskynvrou’ was Marie Marx die wenner. Haar kleurgebruik is ook as die beste uitgesonder. In die Middelbaar-kategorie met die tema ‘High and Mighty’ was Liza Tustin die wenner, terwyl Cecilia Hubner se kleurgebruik die beste vir die tema ‘Weelde van kleur’ was. Maryna van der Merwe was die wenner van die Gevorderd-kategorie met die tema ‘Juwele van Loof en Krale’ – sy het die beste van tekstuur gebruik gemaak en haar ontwerp is boonop as die beste op die skou aangewys.

Faan Haasbroek was tweede en Leon was derde.

Ander wenners in die Gevorderd-kategorie is Rina Stander van die ‘Moeder Herfs’-tema, met Liza Tustin tweede en Faan derde. In die Ope-afdeling met die tema ‘Ek is vrou’ is Maryna weer as wenner aangewys met Ansie Marais tweede en Estelle Keys derde.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n e-pos na randfonteinherald@caxton.co.za (onthou asseblief om jou kontak besonderhede by te voeg) of skakel ons by 011 693 3671.

Vir daaglikse gratis gemeenskapsnuus aan die Wes-Rand, besoek ook ons susterkoerante se webtuistes 

Roodepoort Record

Krugersdorp News

Get It Joburg West Magazine

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie om jou stem te laat tel!

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Randfontein Herald in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button