Familiehuis in flarde na storm
'n Onlangse storm het ‘n gesin van Bootha-plotte dakloos gelaat.
Die hewige storm wat R’fonteiners op Maandag, 5 November getref het, het ‘n gesin van Bootha-plotte dakloos gelaat.
Hennie en Karen van der Walt en hul twee kinders se besittings is alles Maandagmiddag deur lede van die gemeenskap en die Gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) in die motorhuis ingedra.
“Meeste van die dakplate lê nog op die grasperk en een het in ‘n boom ingewaai. Die motorhuis is die enigste struktuur wat nog ‘n dak het en al ons meubels staan nou daar. Ons woon tydelik saam met ons skoonouers in ‘n woonstel hier op die plot,” het hy gesê.
Lees ook:
Hennie en Karen was by die werk toe hulle die nuus ontvang het.

“Karen werk in Midrand en ek in Krugersdorp. Een van die werkers op die plot het gebel en histeries gesê die huis se dak het afgewaai en dat daar ‘n brand was. Ons is albei huis toe en was baie verlig toe ons gesien het dat daar geen brand was nie.
Hier was baie mense wat kom help het, en ons ken nie eers die helfte van hulle nie. Buiten die GPF het ander mense van die omgewing ook opgedaag om hand by te sit. Ons kon die meeste van ons besittings red.”
Hulle woon al sewe jaar in dié huis en het deur die jare die huis mooigemaak en ingerig soos hulle dit wou hê. Hoewel hulle huisversekering het, wag daar ‘n baie lang proses voordat alles terug na normaal kan keer.
“Die assessor moet nog na die skade kom kyk en van daar af kan ons met die proses voortgaan. Gelukkig is die meeste van ons meubels ongeskonde, maar die huis het groot skade gely. Ons is so dankbaar teenoor elke persoon wat ons kom help het.”
Dié storm het ook ’n paar bome in die Randfontein-omgewing omgewaai.
Do you perhaps have more information pertaining to this story? Email us at randfonteinherald@caxton.co.za (please remember to include your contact details in the email) or phone us on 011 693 3671.
For free daily local news on the West Rand, also visit our sister newspaper websites
Remember to visit our Facebook, Twitter and Instagram pages to let your voice be heard!



