CrimeNews

Connie Mulder se bus is gesteel

Die Connie Mulder Sentrum vra dat enigiemand wat iets gesien het hulle sal help met inligting.

Een van die Connie Mulder Sentrum se twee minibusse is op Woensdag, 7 November by die Verkeersdepartement gesteel.

Volgens hul hoof uitvoerende beampte, Gordon Henney is die sentrum ‘n groot knou toegedien deur die verdwyning van dié wit 2004 Toyota Siyaya-minibus met registrasienommer RKK 069 GP.

“Drie personeellede is verlede Woensdag met die bussie na die lisensiekantoor toe. Twee van hulle het in die gebou ingegaan en die derde een het later ‘n kollega se identiteitsdokument vir hom geneem wat hy in die bussie vergeet het. Toe hulle weer buite kom, het die bussie spoorloos verdwyn,” het Gordon gesê.

Also Read:

Suspect bust with stolen vehicle

“Die bussie word gebruik om inwoners en dagwerkers na klinieke en hospitale toe te neem. Dit word ook gebruik om inwoners na sportbyeenkomste en ander geleenthede te vervoer. Dit is ‘n baie groot terugslag vir ons en ek voel sommer moedeloos. Ons neem een tree vorentoe en dan sommer twee treë terug, want ons kan dit nie bekostig om die minibus te vervang nie.”

Die minibus is duidelik gemerk dat dit aan die sentrum behoort.

“Wat my die meeste ontstel is dat hulle die bussie gesteel het met die wete dat dit bedoel was om die lewe vir gestremdes gemakliker te maak,” het Gordon gesê.

Hy het gesê dat hy nie kan verstaan dat niemand dit gesien gebeur het nie, want die parkeerterrein van die lisensiekantoor wemel altyd van die mense.

“Ek vra dat enigiemand wat iets gesien het, ons tog net sal help met inligting. Ons het versekering, maar dit gaan nie naastenby genoeg uitbetaal om ‘n nuwe minibus te koop nie. Ons moet die minibus opspoor,” het hy gesê.

Daar was ‘n opspoortoestel in die minibus, maar volgens die diensverskaffer is die toestel intussen verwyder. Volgens Gordon is die saak by die polisie aangemeld.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n e-pos na randfonteinherald@caxton.co.za (onthou asseblief om jou kontak besonderhede by te voeg) of skakel ons by 011 693 3671.

Vir daaglikse gratis gemeenskapsnuus aan die Wes-Rand, besoek ook ons susterkoerante se webtuistes 

Roodepoort Record

Krugersdorp News

Get It Joburg West Magazine

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie om jou stem te laat tel!

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Randfontein Herald in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button