Skoolgees spat tydens Riebeeckrand Feesweek
Riebeeckrand se jaarlikse Feesweek het leerders en onderwysers byeengebring vir ’n week van sport, optredes, pret en fondsinsameling.
Hoërskool Riebeeckrand High School het onlangs behoorlik feesgevier tydens sy jaarlikse Feesweek, ’n jarelange tradisie wat leerders en onderwysers bymekaarbring vir ’n week van pret, vermaak en fondsinsameling.
Leerders en onderwysers het deur die loop van die week aan verskeie aktiwiteite deelgeneem, terwyl uiteenlopende aantrektemas vir ’n feestelike atmosfeer gesorg het.
• LEES OOK: Generasies verenig by Riebeeckrand se 30-jaarviering
Die program het onder meer sakresies en sportwedstryde ingesluit, waartydens leerders en onderwysers mekaar op die sportveld in rugby, krieket en netbal die stryd aangesê het. Leerders het ook hul talente tydens verskeie optredes ten toon gestel, terwyl die bekende musiekkunstenaar Loufi die skoolgemeenskap vermaak het.


Skoolhoof Gerhard Myburgh het die Feesweek as ’n groot sukses beskryf en die geleentheid wat dit aan leerders en onderwysers gebied het om buite die klaskamer saam te kuier, verwelkom.
Die Feesweek het baie goed verloop. Dit was goed om te sien hoe beide onderwysers en leerders pret het,” het Myburgh gesê.




Myburgh het self tot die vermaak bygedra toe hy saam met Loufi op die verhoog verskyn het, tot groot vermaak van die leerders.
Die jaarlikse Feesweek het weereens die skool se sterk gemeenskapsgevoel en skoolgees onderstreep, met leerders en personeel wat saam pret gemaak het terwyl fondse vir die skool ingesamel is.





