Vir die afgelope ses maande is die Wonderfonteinspruit onder Donaldson Dam vol riool.
“‘n Stank hang permanent in die lug en boonop is die kanse groot dat boorgatwater in dié omgewing besmet gaan raak,” het Gerhard van Niekerk, ‘n bekommerde inwoner van Westonaria gesê.

“Ek woon op ‘n plot sowat 1km van die Wonderfonteinspruit onder Donaldson Dam af, maar die reuk van die riool is so erg dat ons kluisenaars in ons eie huis is. Wanneer dit reën, loop die spruit oor en die rioolwater dam op nader aan my huis. Dit het vroeër gewoonlik binne ‘n paar dae opgedroog, maar nou staan dit al ses maande lank so,” het hy gesê.
Hy het die probleem al telkemale by die munisipaliteit gerapporteer, maar het gesê dat hulle hom van die een persoon na die ander verwys en steeds geen antwoorde kry nie.
“Ons het al ‘n munisipale trok by die dam gesien, maar in plaas daarvan om die riool uit te pomp, het dit gelyk of hulle riool in die dam inpomp. Ek vermoed dis al Bekkersdal se riool wat hier eindig,”het hy gesê.
Hulle woon al meer as 20 jaar op die plot en Gerhard het gesê dat hy nie as gevolg van ‘n rioolprobleem wil trek en al hul goeie herinneringe agterlaat nie.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n e-pos na randfonteinherald@caxton.co.za (onthou asseblief om jou kontak besonderhede by te voeg) of skakel ons by 011 693 3671.
Vir daaglikse gratis gemeenskapsnuus aan die Wes-Rand, besoek ook ons susterkoerante se webtuistes
Roodepoort Record
Krugersdorp News
Get It Joburg West Magazine
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie om jou stem te laat tel!



