Nes al die areas in en rondom Randfontein, ervaar Toekomsrus se inwoners daagliks rioolprobleme.
Vir die afgelope maand is Rosie Fourie se erf toe onder ‘n dam rioolwater wat uit een van die buitedreine opstoot. Volgens haar gebeur dit omdat die hoofdrein van die blok verstop is.
“Die munisipaliteit was al twee keer dié maand hier, maar hulle het elke keer glo gery om gereedskap te gaan haal en nooit teruggekom nie,” het sy gesê.
Terwyl die Herald die huis in Jukskeirivierstraat op Vrydag, 8 Maart besoek het, het ‘n munisipale voertuig voor Rosie se huis gestop, maar het onmiddellik weer gery.
“Dit is die diens wat ons kry. Ons betaal die munisipaliteit vir dienslewering en dan kan hulle nie eers uit die trok klim om na die probleem te kyk nie,” was haar kommentaar op die vinnige besoek.
“Ons kan nie meer die krane of die toilet in die huis gebruik nie, want alles stoot buite op en dit loop al amper in my huis in. My seun, Dominic is nog jonk en wil nie heeldag in die huis wees nie. Boonop het ek ook ‘n sesjarige in die huis en daarom is die riool in ons erf so gevaarlik.”
Drie van haar bure ervaar dieselfde probleem. Volgens Isak Green, Rosie se buurman, het hy al telkemale die wyksraadslid gekontak om die probleem te rapporteer.
“Die raadslede maak ook net leë beloftes. Mens kan nie meer so leef nie. Dis ‘n gesondheidsrisiko vir mense en troeteldiere en dit stink vreeslik,” het hy gesê.




