#IMadeMyMark: Skole oor hoekom jy vandag jou kruisie moet trek …
Die Herald het by leerders van Laerskool Rapportryer (Rappies) en Laerskool Randfontein gaan uitvind waarom mense bo 18 vandag (8 Mei) hulle kruisie moet trek ...
Die 2019-verkiesing is om die draai en hoewel laerskoolleerders nog nie oud genoeg is om te kan stem nie, is hulle baie ingelig oor hoe ‘n demokrasie werk.
Die Herald het by leerders van Laerskool Rapportryer (Rappies) en Laerskool Randfontein (Ram) gaan uitvind waarom mense bo 18 vandag (8 Mei) hulle kruisie moet trek.
Laerskool Rapportryer (Rappies):
“Ek is nog ver te jonk om te stem, maar ek sal ook nie eendag stem nie behalwe as daar iets groot in ons land verander,” het Christo Collins in Graad 4 gesê.
Daarenteen het Danica Bootha in Graad 5 gesê dat mens beslis jou kruisie moet trek.
“As jy stem kan jy jou opinie oor jou land en jou dorp gee. As dit nie gebeur nie dan vreet korrupsie en ongelykheid ons land op,” het sy gesê.

“Ek dink dis belangrik om te stem, want dan kan almal ‘n regverdige kans kry om hul opinie te lewer sonder dat enige iemand dit teen hulle kan hou. In die ou dae was ‘n verkiesing ‘n fees met heerlike gebak en tannies van verskillende partye het hul kiesers met eet- en drinkgoed bederf. Mag die 8ste Mei ‘n feestelike dag vir almal wees en onthou dat elke stem tel,” het Almaré Joubert in Graad 7 gesê.

Schalk Brits in Graad 6 het gesê dat sy pa altyd sê dat om te stem gee jou rede om te kla, maar hy het nie daarmee saamgestem nie.
“Om te stem gee jou reeds nie rede om te kla nie. Om te stem bring verandering en ons almal wil tog een of ander tyd iets in die land verander, al is dit ook hoe klein. Jy moet jou kruisie trek, want ons moet stem vir ‘n gebalanseerde en regverdige regering wat nie mense wegwys of afkeur as gevolg van hul ras, geslag of enige ander verskil nie. Die verkose president moet die regte keuses kan maak vir die land en sy mense. As jy ‘n verskil wil sien, moet jy nie ‘n draadsitter wees nie.”

Laerskool Randfontein (Ram):
William Kruger in Graad 7 het gesê dat hy dink elke Suid-Afrikaner moet stem vir ‘n beter toekoms.
“Deur te stem kry jy ook ‘n plek in die land se demokrasie. Jy het die mag om die land te verbeter deur vir ‘n goeie party te stem,” het George Nicolakakis in Graad 7 gesê.
Jean Liebenberg in Graad 6 meen dat mense moet stem om die land ‘n beter plek vir alle Suid-Afrikaners te maak.
“Die verkiesing gee mense die geleentheid om regverdig en gelyk te stem vir ‘n wie jy ondersteun sonder enige bakleiery.”

“Om in ‘n demokratiese verkiesing te stem beteken dat almal ‘n gelyke stem het en so kan ons vrede in ons land kry,” het Marizelle Williams in Graad 6 gesê.
“Mens moet stem om die land ‘n beter plek vir jouself en vir jou kinders en hulle kinders te maak. Almal mag ‘n opinie hê oor wat in die land gebeur,” het Naledi Moshela in Graad 6
Thea-Mari Vogel in Graad 7 tel die jare af tot sy die eerste keer kan stem.
“Mens moet stem, want dan maak jy die keuse wie jy wil hê die land moet regeer,” het sy bygevoeg.





