Fred Botes het ‘n groot skok gekry toe hy sy nuutste munisipale rekening oopgemaak het.
Volgens dié Randgate-inwoner was sy waterrekening baie hoër as gewoonlik.
“Die afgelope ruk is my rekening tussen R600 of R800 meer as gewoonlik, al gebruik ons nie so baie water nie. Ek was al self by die munisipaliteit om daaroor navraag te doen en hul antwoord was dat hulle skat hoeveel water elke huishouding gebruik,” het hy gesê.
Fred wil graag ‘n voorafbetaalde watermeter laat installeer, maar die munisipaliteit laat dit nie toe nie.
Ek weet van ander inwoners wat dieselfde probleem ervaar en as ons nie dié rekeninge betaal nie, word ons water en elektrisiteit sommer vinnig afgesit.”
Fred werk van die huis af en het die afgelope vyf maande nie een keer gesien dat sy watermeter gelees word nie. Hy het bygevoeg dat daar geen manier is dat die munisipale werkers die watermeter kan lees nie, want dit is vol blare en ander vuilgoed.
“Buiten die groot bedrag wat ons vir watergebruik skuld, word die woord ‘watergebruik’ ses keer op die nuutste rekening genoem – elkeen met sy eie bedrag. Hoe is dit moontlik?”




