Connies bingo-aand is meer as net bingo
Hoewel die Connie Mulder Sentrum se bingo-aand groot pret is, is dit ook die sentrum se grootste en suksesvolste fondsinsameling.
Verlede jaar was die kaartjies vir die Connie Mulder Sentrum se gewilde bingo-aand alles uitverkoop, en vanjaar beplan hulle om weereens alle verwagtings te oortref.
Die sentrum is besig om voor te berei vir vanjaar se bingo-aand wat op 26 Julie gaan plaasvind. Volgens Gordon Henney, hoof uitvoerende beampte van die sentrum, was dié fondsinsamelingsfunksie reeds ‘n jaarlikse instelling toe hy 17 jaar gelede by die sentrum aangesluit het.

“Die grootste trekpleister was nog altyd die MSC-bootreis, en vanjaar het ons sommer twee bootreise. Vernon Woods het dit geborg. Daar gaan ook ander lekker pryse wees wat deur verskeie plaaslike besighede geborg word, en ons is hulle ewig dankbaar vir hul ondersteuning. Ons beplan om meer as 100 pryse in die gelukstrekking te hê,” het hy gesê.
Volgens Gordon verwag hulle dié jaar 400 mense by die bingo-aand. Hy het bygevoeg dat die kaartjies soos soetkoek verkoop.




