Vat vir Fluffy veearts toe
Dis algemene kennis dat troeteldiere, nes mense, gereeld ‘n dokter moet besoek, maar hoe gereeld moet jy vir Fluffy veearts toe neem?
Dis algemene kennis dat troeteldiere, nes mense, gereeld ‘n dokter moet besoek, maar hoe gereeld moet jy vir Fluffy veearts toe neem?
Volgens dr Johan Naudé van die Randfontein Dierehospitaal in Randgate hang dit af van die troeteldier se gesondheid en ouderdom.
“Ons glo dat voorsorg beter is as nasorg, daarom moet alle troeteldiere minstens eenmaal ‘n jaar ‘n draai by ‘n veearts maak. Babas moet gereeld inkom vir hul inspuitings en wanneer die tyd reg is, om reggemaak te word. Daarna moet hulle hul jaarlikse inentings kry,” het hy gesê.
Hy het gesê dat diere met gesondheidsprobleme meer gereeld ‘n veearts moet besoek sodat hulle gemonitor kan word.
“Soos diere ouer word en probleme ontwikkel, kan ons dit behandel as ons dit met die jaarlikse besoek diagnoseer. Diere wat sewe jaar en ouer is, moet elke paar maande ondersoek word,” het hy gesê.
Alle troeteldiere – van katte en honde tot hase en skilpaaie – moet dié tipe ondersoeke kry.
“Ons ondersoek die dier van voor tot agter en as die eienaar daarop aandring, kan bloedtoetse gedoen word. Buiten inentings stel ons ook tablette of druppels vir bosluise en wurms voor, want dit hou hulle gesond,” het hy bygevoeg.




