Local newsNews

Moenie die Vleisfees oor ‘n week misloop nie

Organiseerders van die Vleisfees sê dit gaan 'n gesinsdag wees met vermaak vir oud en jonk en 'n stewige dosis gesonde tradisie en kultuur.

Die Hervormde gemeente Sionspoort bied op Saterdag, 3 Augustus ’n Vleisfees aan en dit gaan iets groot wees.

Volgens Appel Ernst, die fees se mediabestuurder, gaan die fees vanaf 8vm tot laat by die Tuinhekkie in Elandsvlei plaasvind.

“Dit gaan ’n gesinsdag wees met vermaak vir oud en jonk met ’n stewige dosis gesonde tradisie en kultuur,” het sy gesê.

Feesgangers kan uitsien na spesiale demonstrasies soos om ‘n koei te melk, botter te maak, sweep te slaan, skaap te skeer, seep te maak, vleis te verwerk, en volkspele en blommerangskikking te doen.

Besoekers kan onder andere ook deelneem aan skyfskiet, boogskiet, kettieskiet en boeresport. ’n Groot toutrekkompetisie word aangebied en spanne van agt lede word uitgenooi om deel te neem. Kinders word die hele dag in die kinderpark met pret en speletjies vermaak.

Die fees het ‘n vol vermaakprogram met kunstenaars soos Ampie, Anton Botha, Tanya V, Evert Swart, Kosie Beukes en die Ventertjies wat deur die loop van die dag optree.

Daar sal ’n groot verskeidenheid stalletjies met uitsoekprodukte op die terrein wees. Besoekers kan die vee-inligtingsessies bywoon en ook deur die veelotte stap en sien hoe vee vir die mark voorberei word.

Smulpape en ander fynproewers kan weglê aan heerlike disse soos pap-en-kaiings, skilpadjies, braaivleis, potjiekos, boereworsrolle (met die spesiale feeswors), varsgebakte plaasbrood, pannekoek, koeksisters, melktert en baie meer.

“’n Veteraanmotoruitstalling is nog een van vele hoogtepunte. Daar is ’n spesiale kuierarea waar lafenis en goeie geselskap gevind kan word. En moenie die hoofoogmerk van die fees uit die oog verloor nie – vars, hoëgehalte vleisprodukte teen billike pryse. Kom vroeg en bly tot laat.”

Toegang is R20 per voertuig. Vir meer inligting, kontak 082 364 8576 of gaan lees meer oor die fees op die web by https://www.sionspoortvleis.org of op Facebook by SionspoortVleis.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Randfontein Herald in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button