Gesonde leefstyl die moeite werd
'Ek beplan om nog meer gewig te verloor want ek wil nooit weer wees waar ek was nie.'
Rhoda Groenewald, 48, is ‘n bakker wat van die huis af werk. Vroeër in haar lewe was sy baie depressief, emosioneel en deurmekaar.
“Die dokter het my toe op kroniese medikasie gesit, maar daar was ‘n groot probleem. As gevolg van die pille het ek baie gewig begin optel. Ek het dit uit my gedagtes geskuif want hoekom sal kroniese medikasie dit aan iemand doen?”
Sy het toe aangehou om die pille te drink wat vir haar voorgeskryf is.
“Ek het later met die wonderlikste man getrou. Voor ons troue het ek vir hom gesê ek gaan die pille los want dit maak my siek. Natuurlik was hy baie bekommerd. Ek het gewigsverliespille begin drink, maar kom toe agter dit gaan nie die probleem oplos nie.”
Rhoda het begin om oefeninge te doen want die pille het duidelik nie gewerk nie. Sy was baie selfbewus.
“In Mei 2018 het ek by Walk/ Run For Life aangesluit en deur die groep het ek meer selfvertroue begin kry, en dit alles sonder pille.
“Dit gaan alles daaroor dat mens in jouself moet glo en sê dat jy dit kan doen. Ek het ‘n gesonde dieetplan gevolg, en binne nagenoeg vyf maande het ek 20kg gewig verloor. Ek weeg nou ‘n gelukkige 126kg.”
Rhoda het vertel dat deur gesond te eet asook ‘n paar leefstylveranderinge dit nou vir haar baie lekker is om in die spieël te kyk, en te sien dat sy besig is om gewig te verloor en weer haar gelukkige self te vind.
“Ek beplan om nog meer gewig te verloor want ek wil nooit weer wees waar ek was nie. Ek het oefen gehaat, maar vandag besef ek dit is so lekker wanneer jy eers begin,” het Rhoda gesê.




