MunicipalNews

Randgate begin met ‘n aaklige stink tot die nuwe jaar

'n Rioolstorting versuur inwoners van Randgate se lewens sedert verlede jaar.

Raadslid Cina Erasmus is raadop weens die erge rioolprobleem waarmee inwoners van die Randgate-area sedert verlede jaar opgeskeep sit.

Erasmus het vertel dat sy gereeld deur inwoners gekontak word oor die rioolstorting op die hoek van Langerman- en Uniestraat.

Dié rioolstorting hou ‘n groot gesondheidsrisiko vir inwoners in.

“Die riool loop in die vallei in wat deur Greenhills tot by Hartbeespoortdam strek,” het Cina vertel.

Cina is besorg oor ploteienaars se diere en vee wat die water drink.

“Die boere se oeste word ook geaffekteer. Hierdie groot gesondheidsrisiko is al sedert middel-November 2019 ‘n probleem wat net nie opgelos word nie. Die inwoners van Randgate is baie bekommerd,” het sy vertel.

Volgens Cina het sy die probleem sedert middel-November weke aaneen tot in die nuwe jaar gerapporteer.

Die rioolwater loop soos stormwater in die vallei in.

“Ek is na een van die bestuurders by die munisipaliteit deurgesit en daar is toe vir my gesê dat daar ‘n aantekening van die probleem gemaak is. Daar is nog niks verder gedoen nie, en die riool loop nog steeds oor.

“Daar is geen dienslewering nie, so hoekom moet die inwoners betaal? Wat word met hul geld gedoen? Inwoners bel my elke dag en kla oor die reuk. Dit is regtig nie regverdig teenoor hulle nie.”

Die riool wat die stank veroorsaak.

Volgens Cina gaan hulle as ‘n span ‘n petisie opstel sodat die rioolstelsel in Randgate opgegradeer kan word, want dit is tans nie op standaard nie.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Randfontein Herald in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button