Droogtehulp-projek om boere regoor SA te help
'n Man uit die Wes-Kaap maak 'n verskil in ons boere se lewens. Jy kan so help ...
Al is die Droogtehulp-projek onder leiding van Burre Burger aanvanklik begin om boere in droogtegeteisterde gebiede te help, word ander boere regoor Suid-Afrika nie daarvan uitgesluit nie.
Burre, 35, wat in Durbanville in die Wes-Kaap woon, was op die laaste dag van die Randfontein Skou – Sondag, 8 Maart – die gasspreker. Hy het juis oor die projek gepraat en sy hartroerende storie met die gemeenskap gedeel om hoop vir boere in nood te bring. Hy het ook vertel hoe hy jare gelede (voor die projek) sy eie lewe wou neem maar dat daar ‘n groter doel vir hom in die lewe was.
“Die Skou ploeg graag terug in gemeenskapsprojekte en hierdie jaar wou ons vir Burre Burger van Droogtehulp SA ondersteun,” het skoukoördineerder, Marcelle Mans verduidelik.
Burre het vertel dat daar tans tussen 400 en 800 boere regoor Suid-Afrika is wat dringend hulp nodig het met voer, kos, klere asook algemene produkte.
Sy kernboodskap aan Randfontein was dat as almal saam verenig en in vrede met mekaar saamleef, die Here die sluise van die hemel nie net sal oopsluit nie, maar dat hy baie goed in ons lewens sal verander.
Sedert 2017 het Burre en sy span al meer as R250 miljoen se waarde tot landbou toegevoeg. Daar is meer as 1 868 vragte voer en ander kos regoor SA afgelewer, en daar is skoolfondse en hospitaalkostes van oor die R3 miljoen dié jaar namens boere in nood betaal.
“Ons wil graag voor Kersfees 1 800 vragte voer afgelaai hê,” het hy gesê.
Sou jy belangstel om tot die projek by te dra, kan jy vir Burre epos na burre@droogtehulp.co.za of hul webwerf besoek by https://www.droogtehulp.com.




