Bless a Blankie-projek skenk handgemaakte komberse
Enigiemand in die gemeenskap wat weet hoe om te brei, hekel en patrone kan lees, is welkom om deel van die projek te wees.
Die Bless a Blankie-projek fokus daarop om gehekelde en gebreide kombersies, en ander items te maak wat dan geskenk word om vir babas en by ouetehuise gebruik te word.
Adri Kriel, wat die projek reeds in April tydens die inperkingstyd begin het, het gesê dat hekel haar stokperdjie is en dat haar idee vir die projek daaruit ontstaan het.
Sy het vertel dat Bless a Blankie fokus op die Randfontein- en Krugersdorp-areas, en dat Hannetjie Holzhausen die projek in Krugersdorp behartig.
“Gedurende grendeltyd het ek gevoel dat my stokperdjie net sowel aangewend kan word om iets vir die gemeenskap te maak en te skenk.”
Op dié manier kon Adri iets doen wat sy geniet en steeds ander help ook.
Enigiemand in die gemeenskap wat weet hoe om te brei, hekel en patrone kan lees, is welkom om deel van die projek te wees. “Jy kort net hekel- of breipenne, wol en ‘n passie,” het Adri gretig vertel.
Sy glo dat wanneer mens iets self maak, jy jou liefde en tyd daarin sit en iemand anders se dag daarmee opkikker. “Dit is van onskatbare waarde.
“Dit is lekker om te kan help, maak nie saak op watter manier nie.”
Enigiemand in die gemeenskap wat wil wol skenk vir die projek, of wil komberse hekel of brei, kan vir Adri kontak by 065 859 7068.



