Municipal

Sakke teer geskenk vir ‘n beter infrastruktuur

AfriForum se Westonaria-tak het onlangs skenkings aan die munisipaliteit gemaak om die infrastruktuur te verbeter.

AfriForum se Westonaria-tak het ‘n skenking aan die Rand West City Plaaslike Munisipaliteit gemaak om die gebied se infrastruktuur op te knap.

Esther Swart, voorsitter van die Westonaria-tak, het gesê die eerste skenking is op 18 Oktober gemaak, wat bestaan het uit talle koper-krimphulse vir kragkabels. Toe het die tak op 22 Oktober 340 sakke teer aan die munisipaliteit oorhandig.

“Die tak het besluit om hierdie skenking te maak, aangesien die munisipaliteit dikwels moet sukkel om die gemeenskap met min tot geen hulpbronne te dien wanneer kragonderbrekings plaasvind. Hierdie skenking is net ‘n druppel in die emmer van wat nodig is om die krag voortdurend in Westonaria aan te hou,” het sy bygevoeg.

Volgens Swart het die tak ‘n verdere skenking van 300 sakke teer gemaak wat gebruik sal word om die R559 te herstel.

“Die pad tussen Venterspos en Westonaria is ‘n ruk gelede gesluit weens sinkgate op die pad. Sedertdien moes die gemeenskap van Venterspos, Randfontein omry om Westonaria te bereik,” het sy verduidelik.

“As dié dorp se AfriForum-tak sal ons alles in ons vermoë doen om die bystand te verleen wat die munisipaliteit so dringend benodig. Saam kan ons ‘n daadwerklike verskil in die gemeenskap maak,” het sy gesê.

Die munisipaliteit is vir kommentaar genader waarna Phillip Montshiwa, woordvoerder, gesê het dat hulle steeds besig is om die besonderhede te verifieer.

“Dit is noodsaaklik om te erken dat die munisipaliteit sy omvattende plan vir infrastruktuurontwikkeling en instandhouding daargestel het. Skenkings van gemeenskapslede is werklik prysenswaardig en weerspieël die gees van gemeenskapsbetrokkenheid.

“Dit is egter van kardinale belang om in gedagte te hou dat alle bydraes op ’n vrywillige basis gemaak word, en ons moet daardie perspektief respekteer terwyl ons vorentoe beweeg,” het Montshiwa gesê.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Randfontein Herald in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button