Municipal

Senior burgers pak onwettige storting in Randgate aan

As gevolg van die gevolge van gereelde onwettige storting in die Randgate-gebied, het drie bejaarde inwoners en 'n raadslid besluit om self iets daaromtrent te doen.

Drie senior inwoners, saam met ’n raadslid, het besluit genoeg is genoeg van die onwettige storting van vullis in Randgate – en ingespring om ’n verskil te maak.

Joey Eloff, Santa Burke en Hannetjie Wright van die Randpoort Tuiste, saam met Wyk 4-raadslid Sina Erasmus, het onlangs weer ’n area naby die tehuis gaan skoonmaak. Volgens Erasmus word dié plek gereeld as stortingsterrein gebruik, ondanks die feit dat dit nie op munisipale grond is nie.

“Ons maak gereeld hier skoon en sny die gras,” het sy gesê. “’n Privaat besigheid kom ook twee keer per jaar om gras te sny.”

Burke het bygevoeg dat die vullis wat daar gestort word, dikwels teen die tehuis se heining waai, wat beteken hulle moet dit in elk geval opruim.

Teen die muur is daar ‘n waarskuwing teen onwettige storting.

“Ons het al sakke vol vuil babadoeke daar gekry,” het sy gesê.

“Dit is baie onhigiënies. Daar is ook riool wat oorloop en wat kort-kort aandag verg. Tans loop dit weer,” het Eloff genoem.

Sy het verder gesê dat die stormwaterdrein dikwels verstop is en dat mense selfs vuur op die sement maak om hulself warm te hou. Hulle het ook al herhaaldelik dwelmparaphernalia daar gevind.

Riool wat oorloop op die eiendom.

“Dit hou ’n gevaar in vir die ouer mense wat hier woon,” het Burke beklemtoon.

Op 14 Julie het die groep nege sakke vol rommel in die area opgetel en gehark.

“Daar word voortdurend rommel gestrooi,” het Eloff gesê. “As ons sien daar’s weer ’n hoop, gaan tel ons dit maar op. Hoewel ons pas skoongemaak het, lê daar alweer nuwe gemors.”

“Dis ’n skande dat senior burgers agter ander mense moet skoonmaak,” het Erasmus afgesluit.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Randfontein Herald in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button