AfriForum bied ‘n Kersete vir DBV-diere aan
AfriForum Randfontein en AfriForum Krugersdorp het skenkings vir die plaaslike DBV van Randfontein en Westonaria ingesamel om 'n smaaklike Kersete vir die diere te reël.
Die Randfontein en Krugersdorp se AfriForum-tak het hande gevat met die plaaslike DBV om ‘n smaaklike Kersete vir die diere in nood te reël.
Die burgerregte-organisasie het op 2 Desember verskeie skenkings ingesamel van mense wat bereid was om die diere ‘n oorvloedige maaltyd vir die feestyd te gee. Die DBV-perseel was volgepak met hondekos en katkos. Kersvader het ook die geleentheid bygewoon om die geesdrif vir die diere ‘n werklikheid te maak en om ook die geleentheid saam met vrywilligers te vier.

Hennie Benson van AfriForum Randfontein het die deelnemers en organiseerdes van hierdie geleentheid bedank.
Bemarkingshoof van AfriForum Krugersdorp, Martie Gouws het die DBV bedank vir die geleentheid om die diere ‘n vullende Kersete te gee, asook al die vrywilligers wat skenkings en bydrae gelewer het om die geleentheid ‘n sukses te maak.

“’n Dankie aan die DBV se werknemers en vrywilligers wat hard werk en hul tyd bied om hierdie diere te help,” het Martie gesê.
Martie het bygevoeg dat die grootste uitdaging die aantal skenkings was maar dat hulle heel tevrede is.
“Die beste deel van die dag was dat die geleentheid ons saamgebring het en dat ons ‘n tydjie saam die diere kon spandeer,” het Martie opgewonde verkondig.



