Local news

VLU kom bymekaar vir jaarlikse konferensie

Die Vrouelandbou-unie (VLU) het onlangs konferensie gehou en onder andere oor projekte en die finansiële jaar vergader asook erkenning gegee aan lede.

Die Vrouelandbou-unie (VLU) se jaarlikse konferensie, wat vanjaar deur die Middelvlei-tak aangebied is, was ‘n klinkende sukses.

Op 9 Maart het agt verskillende takke bymekaargekom om 2023-sake in hul streek te bespreek.

Ronel de Greeve van die VLU het verduidelik, “Die doel van die konferensie is om onder andere erkenning te gee aan ons vroue vir hul harde werk die afgelope jaar.”

Op die lys van verrigtinge was die bespreking van die 2023 finansiële jaar. Daar was dan gestem oor sake wat moontlik aan, of die regering, of ander organisasies oorhandig moet word. Verder is erkenning ook aan lede gegee vir hul jarelange diens met sekere lede wat 20, 40 en selfs 50 jaar lank deel van die VLU is. Verder het hulle ‘n verkiesing gehou vir die volgende ampsdraers.

Volgens Ronel is ampsdraers verkiesbaar na twee jaar se dienstyd.

Jaarliks bied hulle ook ‘n kompetisie aan vir die vroue in die organisasie om hul talente ten toon te stel.

“Dit word op streeksvlak beoordeel en dan kan die vroue op provinsiale vlak ook deelneem. By die konferensie het die lede die kans gehad om hulle kompetisie artikels ten toon te stel.”

Ronel het uitgebrei dit sluit in gebak, preservering, brei, hekel, masjienwerk, borduurmasjien-artikels, hand-borduurwerk, fotografie, skryfkuns, kuns, handvlyt en blomme rangskikking.

“Elke vrou wat deelneem is ‘n wenner omdat sy iets geleer het met die artikel wat sy gemaak het,” verduidelik Ronel.

By die konferensie het hulle ook besluit wat vir die jaar voorlê.

Daar is eerstens ‘n hele paar uitreike waaraan hulle deelneem, insluitend die I can-inisiatief van Pixi Pink, ‘n advokaat vir kinderslagoffers.

Volgens Ronel brei of hekel die vroue Amigurumi-speelgoed wat dan aan kinders (wat in die hof moet getuig) versprei word.

“Ons probeer kinders help waar ons kan en waar daar nood is,” het Ronel gesê.

Ongelukkig is die nood so groot dat hulle nie almal kan help nie. Elke jaar stem hulle dan op streeksvlak watter projek hulle gaan aanpak.

Wanneer ‘n lid dan van ‘n nood bewus word, lê hulle dit voor en daar word besluit watter projek hulle gaan ondersteun.

Oor die VLU het Ronel verduidelik, “Baie van ons werksaamhede is tot voordeel van die gemeenskap, hoofsaaklik kinders. Ons hou dit plaaslik sodat ons eie gemeenskap baat by ons projekte.”

Sy het afgesluit deur te sê, “Ons wil graag die VLU Middelvlei-tak bedank vir ‘n uiterste geslaagde konferensie wat hulle aangebied het. Elaine de Koker en haar span het hulle goed van hulle taak gekwyt. Baie dankie Middelvlei!”

Related Articles

 
Back to top button