Verslawing: Daar is hulp beskikbaar
Pastoor Edward en Suné van Schalkwyk praat oor dwelmmisbruik in die gemeenskap.

Die Randfontein Herald het Pastoor Edward van Schalkwyk (49) genader om te praat oor dwelmmisbruik onder die jeug.
Edward het in 2008 amptelik ‘n pastoor geword. Hy het vertel dat hy vir ongeveer 17 jaar met dwelmverslaafdes werk. Hy is ook die stigter van Turn to Eternal Life Bybel Bedieninge.
Volgens hom gebruik hy sy geloof as hulpmiddel om die verslaafdes te rehabiliteer. Verder probeer Edward ook om borge te kry sodat hy die verslaafdes se rehabilitasiefooie kan dek. Om bewustheid te skep oor dwelmprobleme, hou hy ook gereeld seminare.
“Ons doen enigiets moontlik om die persoon in rehabilitasie te kry – al moet ons hulle toesluit,” het Edward vertel.
Deur die verloop van tyd het Edward en sy vrou, Suné, ongeveer 160 verslaafdes deur rehabilitasie gekry.
“Mense is geneig om altyd die verslaafdes op die straat te skuil, maar niemand gaan sit langs hulle om te hoor wat die probleem is nie. Mense reik nie uit na hierdie verslaafdes nie,” het Suné gesê.

Suné het bygevoeg dat dwelmmisbruik tot prostitusie kan lei. Sy het verder genoem dat sy en Edward al reeds vyf vroue van prostitusie asook dwelmmisbruik verwyder het.
Die Van Schalkwyks is ook betrokke by die kinderhof. Hy het vertel dat hy voorheen kinders van hul dwelmverslaafde ouers moes verwyder.
“In so geval, is die kinders vir my ‘n groter prioriteit. Ek wil hulle eers na ‘n plek van veiligheid neem voordat ek hul ouers kan rehabiliteer,” het Edward vertel.
Edward het tydens die onderhoud ‘n boks vol dwelmmiddels en toebehore vir die Herald gewys. Daar was dwelms insluitend Crystal Meth en Cat asook toebehore soos selfgemaakte pype, strooitjies, inspuitings en gebrande teelepels om ‘n paar te noem.
Vir meer inligting oor hulp na verslawing, kontak Edward op 079 127 9054.