Local news

Help die Nel-familie om Charlie op te spoor

Vermisde kat, Charlie, word gesoek deur sy hartgebroke eienaars.

Charlie se eienaar is dringend opsoek na hom en vra die gemeenskap om te help soek.

Charlie is ‘n wit en swart mannetjies kat met ‘n blou halsband. Hy was laaste op 5 April in Culemborgpark gesien.

Dit is volgens Myrlandi Nel wat bygevoeg het dat die familie vreeslik na Charlie verlang.

“My dogter is al deur twee soortgelyke teleurstellings waar die troetdeldiere weggeraak het. Ons ander kat roep vir Charlie in die huis,” het Nel vertel.

Nel het bygevoeg dat sy onthou hoe Charlie haar elke oggend geroep het sodat sy vir hom melk kan gee.

“Hy het aanhou roep totdat ek kombuis toe kom. Hy was baie pedanties oor sy melk,” het Nel gesê.

Verder het sy vertel dat Charlie ook gereeld by haar dogter se voete geslaap het. Daarom het Nel geweet iets is fout die aand wat Charlie nie in hul huis was nie. Volgens Nel het Charlie voorheen nooit te ver weggeloop nie.

“Asseblief, as iemand vir Charlie gevat het, bring hom veilig terug. Ons het mooi na hom gekyk en alles moontlik probeer om te sorg dat hy nie rondloop nie. Ons sal ewig dankbaar wees as iemand hom kan terug bring of ons inlig indien iemand iets weet,” het Nel afgesluit.

Indien daar inligting oor Charlie is, kontak Nel op 069 347 6150.

Related Articles

 
Back to top button