Local news

Boeremark weereens ‘n prettige sukses

Die NWK Boeremark het weereens nie teleurgestel nie.

Hierdie naweek se boeremark by die NWK het weer vlam gevat met nuwe stalletjies.

Op 27 April het die boeremark die gemeenskap aan die gons gehad met hul verskeidenheid stalletjies. Dit het gewissel van kos- tot kunsstalletjies en nog vele meer.

Die Rand-Wes Buurtwag het hul stalletjie vroeg daardie dag opgerig.

Die Rand-Wes Buurtwag-stalletjie was beman deur Margie Bouwer, Shavenna Boyce, Ferdinand Jordaan, Merie Gresse en Skyf Gresse.

Lid Skyf Gresse het vertel dat die Rand-Wes Buurtwag ‘n geregistreerde nie-winsgewende organisasie is. Hy het verder verduidelik dat die stalletjie se doel bewusmaking was. Volgens hom benodig die buurtwag lede asook patroleerders.

Nog ‘n lid, Merie Gresse, het bevestig dat die buurtwag se doel is om die gemeenskap te beveilig. Indien iemand belangstel om by die buurtwag aan te sluit, kontak Henry Boyce by 073 444 5864.

Erika Louw en haar stalletjie, Eri’s Homemade Sweets.

Eri’s Homemade Sweets was ‘n stalletjie wat nie teleurgestel het nie. Erika Louw het vertel dat sy haar tuisgebakte fudge verkoop het en vir haar is die boeremark ‘n goeie geleentheid want sy beweer dat die gemeenskap haar goed ondersteun.

Green Echo Nursery se Migal en Helena van Zyl.

Die dag was vol groen soos wat Green Echo Nursery hul gekweekte plante uitgestal het. Helena van Zyl het vertel dat hul spesialiseer met meestal tropiese plante. Sy het bygevoeg dat hul uitsien om eendag kruie te kweek.

“Ek sal nie my plante verkoop as ek dit nie wou koop nie. Daarom glo ons in kwaliteit,” het sy gesê.

Alta en Kobus Enslin met Brilliant Moyo wat vars vleis braai.

Die Padstal het smaaklike peuselhappies verkoop en daar was ‘n verskeidenheid van vleis, konfyte en vleis om van te kies. Kobus Enslin het vir die Herald ‘n paar peuselhappies aangebied nadat hy beweer het dat hul altyd goed doen by die boeremark.

Neels van Zyl maak ‘n pannekoek vir Cast Aways Animal Sanctuary.

Cast Aways Animal Sanctuary het gespog met hul vars pannekoeke, melktert en piesangbrood. Gina van Zyl het beweer dat Cast Aways honde- en katkos benodig. Hul het besluit om dié geleentheid te gebruik as ‘n fondsinsameling.

“Ons sal dit so baie waardeer as die gemeenskap meer betrokke kan raak. Ons veearts rekeninge is hoog en ons kort kos vir die diere. Al is dit net ‘n klein donasie sal dit waardeer word,” het sy gesê.

Indien enige donasies gemaak kan word, kontak die stigter en direkteur Louisa Rossouw by 072 812 3333.

Petro de Waal en Mariette van Jaarsveld het ‘n stalletjie saam gehad waar hul koelbokse, serpe, oorbelle en meer verkoop het.

Sienie van Coller se brei-stalletjie het die kollig gevang met die verskeidenheid helder musse en serpe. Sienie vertel dat een produk ongeveer een uur vat om te brei. Sy het verduidelik dat sy mal is oor handwerk en kreatiewe kunste. Sy het haarself beskryf as ‘n kunstenaar.

Related Articles

 
Back to top button