Reën kon nie díe kermis keer om te gebeur!
Die jaarlikse kermis by Connie Mulder Sentrum was volstoom aan die gang ongeag van die nat en koue weer.
Die Connie Mulder Sentrum se jaarlikse kermis het vanjaar weer goed afgeloop onder die gemeenskap en as een vir die boeke geëindig.
In September het die bestuur van die sentrum koppe bymekaar gesit om ‘n indrukwekkende kermis te hou. Dié kermis het bestaan uit verskeie stalletjies wat versnaperinge, bak- en naaldwerkprodukte asook plante ingesluit het.
Volgens hoof uitvoerende beampte, Elona Uys, is al die produkte by die kermis self deur die inwoners gemaak en vervaardig. Sy het bygevoeg die inwoners het hard gewerk om die handgemaakte produkte te maak.
“Ons probeer mense bewus maak dat alhoewel mense gebrekke het, kan hul steeds take verrig en hul talente gebruik,” het sy vertel.
Organiseerder van die kermis, Marlet Botha, het gesê die sentrum hou elke jaar twee fondsinsamelings, waarvan een die kermis is. Die ander fondsinsameling is reeds vanjaar as ‘n Bingo-geleentheid gehou.
“Die inwoners sien elke jaar uit na die kermis. Dit vat ‘n hele span om die kermis te beplan. Ons almal het ingespring om te help,” het Marlet uitgedruk.
Alhoewel dit gereën het, het die kermis steeds voortgegaan in die saal.