Ma van vrou wie se lyk langs substasie gevind is, benodig hulp met begrafnisfondse
Ester Waite treur nie net oor die verlies van haar enigste dogter nie, maar het hulp nodig om vir die begrafnis te betaal.
Nadat Natasha Rossouw Badenhorst (43) se lyk langs ’n substasie gevind is, sukkel haar ma nou om die fondse in te samel om vir haar begrafnis te betaal. Sy moet self ook vrede maak met die heengaan van haar enigste kind.
Op 5 November is Badenhorst se lewelose liggaam langs die Van Der Stel-substasie gevind. Die polisie op die toneel het bevestig dat ‘n doodsondersoek geopen is.
Haar ma, Ester Waite (66), het na vore gekom om uiting te gee aan haar verlies en die uitdagings wat haar dogter se dood meegebring het.
• Lees ook: Woman’s body found at substation in Culemborg Park
“Daar was om 06:30 ‘n klop aan my deur om vir my te sê dit is my dogter. Toe ek my kind moes gaan uitken, het die polisie my meegedeel dat haar dood die oorsaak van ‘n oordosis was. Sy het ’n sak met haar kalmeermiddels, selfoon en dagboek by haar gehad,” het Waite uitgespreek.
Sy het verder hartseer vertel dat sy voor haar dogter se dood vleis gekoop het sodat hulle saam kon eet. Die dag daarna het Badenhorst die woonstel verlaat. Waite was nie seker waarheen haar dogter gegaan het nie, maar sy het gesê dat Badenhorst nooit die woonstelsleutel saamgeneem het nie.
“Ek onthou nog die laaste keer toe sy hier uitgestap het. Ek het haar by die hek sien uitstap. Hoekom het sy nooit die heksleutel gevat nie? Dit pla my. Daardie aand het ek gedink miskien slaap sy by ‘n vriendin en ek het selfs gewonder, moet ek haar bel?” vra sy bekommerd.
Volgens Waite het haar dogter in depressie verval nadat beide haar man en verloofde in haar arms gesterf het.
“Ná die tragiese dood van haar twee geliefdes het sy in die dood gelewe. Sy het gesê sy is moeg vir die lewe, maar ek het nooit geweet wat in haar kop aangaan nie. Sy het my eendag gevra ‘Wat gaan van my word, Mammie? Ek is 43 en ek het nie werk nie,” het sy hartseer gesê.
Alhoewel Badenhorst tekens van depressie getoon het, het Waite verduidelik dat sy nooit regtig die soort persoon was om haar emosies te wys nie.
“Sy het alles ingehou. Ek moes haar altyd vra om met my oor haar emosies te praat,” het sy gesê.
Behalwe dat Badenhorst ‘n stil en saggeaarde mens was, het Waite gesê sy het altyd seker gemaak dat haar hare en grimering gedoen is.
Badenhorst se pa is op die ouderdom van 28 oorlede. Waite het verduidelik haar dogter het grootgeword met die siening dat ‘n vrou in die huis werk. Daarom het Badenhorst volgens haar nooit werk gehad nie.
“Die trane sukkel regtig om te kom, want ek probeer myself steeds oortuig dat sy gaan terugkom. Ek praat nog met haar. Nou die dag toe ek besig was om die brood te verbrand het ek gesê, ‘Ja, Tash, jy sou gesê het die hele huis ruik nou na gebrande roosterbrood’.
“Wanneer jou kind sterf, dink jy nie aan die dood nie. Jy dink aan dinge wat jou kop laat draai. Ek probeer sin maak van alles. Sy was nie ‘n moeilikheidmaker nie. Sy was altyd die persoon wat stilgebly het.”
Terwyl sy oor haar dogter rou, moet sy haar steeds bekommer oor die finansies vir die begrafnis.
“Ek is ‘n pensioenaris. Ek kan nie die uitgawes van die begrafnis bekostig nie,” het sy verduidelik.
Enige persoon wat bereid is om donasies te maak, kan Waite op 067 292 3110 skakel of ‘n boodskap via WhatsApp na 067 761 3062 stuur.
“Ek wil net sê, dankie vir die mense wat besluit om my te help. Dankie vir diegene wat voel dit is nodig om donasies te gee,” het sy afgesluit.