Local newsUpdate

Beide Frikkie en Ounooi het hul ewige tuistes gevind

Twee viervoetige inwoners van No More Tears Animal Rescue is binnekort op pad na hul ewige huise nadat twee diereliefhebbers hulle op sosiale media opgemerk het.

Twee van No More Tears Animal Rescue se #Plan4Nine-honde, Frikkie en Ounooi, het hul ewige huise by twee Kempton Park-inwoners gevind.

Clarisse Kruger, ’n vrywilliger by die diereskuiling, het verduidelik dat die twee saam deur Elizna en Koos van der Vyver van Kempton Park aangeneem is. Hulle het besluit om Frikkie en Ounooi deel van hul gesin te maak nadat hul hond van 17 jaar onlangs oorlede is

“Hulle is groot diereliefhebbers en het besluit die tyd is reg om twee honde ‘n tweede kans te gee wat hulle verdien en vir hulle ’n ewige tuiste te gee,” het Clarisse gesê.

Sy het genoem dat Ounooi een van die ouer honde is wat gered is en na die kleiner honde, waarvan Frikkie een was, omgesien het.

• Lees die oorspronklike artikel hier: ‘n Blikkie vir Frikkie – projek hoop om kos in te samel vir No More Tears Animal Rescue

Ounooi het haar ewige tuiste gevind. Foto ingestuur.

“Ons is baie dankbaar dat hulle saam aangeneem word. Die liefdevolle huis waarheen hulle gaan wil dalk nog een van die #Plan4Nine honde, Smiley, ‘n ewige tuiste bied.”

Clarisse het gesê Frikkie is met net drie bene gebore, sy vierde been is gebrekkig. Beide hy en Ounooi is albei liefdevolle honde wat lief is vir aandag. Ounooi staan ook bekend as die ‘koekiemonster’, aangesien sy so lief is vir koekies en eerste in die ry staan wanneer koekies uitgedeel word.

Die twee se voornemende eienaars ontmoet hulle op 14 Desember en is uiters opgewonde. Hulle het van die twee uitgevind ná ’n plasing op sosiale media oor die Blikkie vir Frikkie-projek waar No More Tears in samewerking met Spiffs Pet Grooming Parlor and Products ’n Kersboom uit blikkies hondekos voltooi het. Clarisse het genoem die boom is nog nie klaar nie en mense kan steeds blikkies hondekos skenk en by Spiffs Pet Grooming Parlour aflaai.

“Ons waardeer die gemeenskap en die mense wat reeds geskenk het.”

Clarisse het bygevoeg dat hul hoop Frikkie en Ounooi net geseën word met liefde in oorvloed.

“Hierdie twee, saam met die ander #Plan4Nine-projekhonde, kom uit haglike omstandighede. Ons hoop dit is ‘n plek van veiligheid waar hulle elke dag sorg en versorging kry.”

No More Tears het tans 15 honde by hul Tarlton-hokke wat ook beskikbaar is vir aanneming en nog sewe van die #Plan4Nine honde wat op soek is na hul ewige huise.

Persone wat belangstel om hierdie honde aan te neem, kan No More Tears by 084 433 7748 kontak.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Related Articles

Back to top button