Fotogalery: Krokodil op die spit en glimlagte by Sionspoort se Vleisfees
Die Sionspoort Vleisfees het weer groot indruk gemaak, van krokodil op die spit tot topvermaak en tevrede feesgangers. Hier is 'n paar besoekers se terugvoer asook nog 'n fotogalery.
Die Sionspoort Hervormde Kerk se Vleisfees het vanjaar besoekers van so ver as die Vrystaat gelok, met krokodil op die spit en optredes deur bekende kunstenaars soos Bobby van Jaarsveld as van die hoogtepunte.
Die Randfontein Herald het met verskeie besoekers gesels om hul indrukke van die fees te hoor.

Randfontein-inwoner Carla van Staden het die Vleisfees bygewoon om plaaslike vermaak te ondersteun.
“Dit was vreeslik interessant en daar was baie om te sien. Ons het kos gekoop en vir my dogter, Miané, Frozen-speelgoed. Ons was daar om na die verskeidenheid plaasdiere te kyk,” het Carla vertel.
• Lees ook: Van kos tot kuier: Sionspoort se Vleisfees lok groot skare

Mariska Viljoen het dit geniet om rond te loop en na babagoed vir haar seun, Elahn, te soek. Sy het gesê die Vleisfees was uitstekend.

Jacques en Karin Pretorius het al die pad van Krugersdorp gekom om te sien wat die fees bied. Hul dogter, Amorey, was opgewonde om vir die eerste keer krokodilvleis te proe. Volgens Jacques sou sy dit reeds verlede jaar geproe het, maar het op die laaste minuut besluit om die uitdaging te vermy.

Milé Claassens het haar slag op die meganiese bul gewys.
“Dit was baie lekker, maar die grootste uitdaging was wanneer die bul vinniger beweeg en jy vorentoe val,” het sy gesê.

Keamogetswe Sithole van Hoërskool Riebeeckrand se Pom-Poms-span het vroegoggend opgetree.
“Ons het vir baie mense gedans. My gedagtes was oral deurmekaar, want dit was my eerste besoek,” het sy gesê.












