Local newsUpdate

Voormalige kollegas van geliefde onderwyser groet hul vriend

Na die afsterwe van Johan du Toit op 8 September, deel twee van Avanté Primary School hul herinneringe aan hul geliefde vriend en kollega.

Op 12 September is Johan du Toit ter ruste gelê vanuit die NG Randfontein-Wes gemeente.

Twee van sy kollegas het hul medelye met die Randfontein Herald gedeel.

Petro de Lange vertel dat Johan ‘n groot passie vir onderwys gehad het.

“Hy het altyd die kinders eerste gestel en al die afvlerkvoëltjies onder sy vlerk geneem. Hy het altyd ‘n vrolike, dog ernstige, leeromgewing geskep. As toegewyde onderwyser het hy geglo jy begin nie ‘n nuwe les voor boeke deeglik nagegaan is, probleme bespreek is en nasorg gedoen is nie.”

Sy vertel dat hy al die leerders by naam geken het, waar hulle gebly het, wat hul omstandighede was en selfs huisbesoek gedoen het.

• Lees ook: Community mourns the loss of dedicated teacher

“Johan was verder betrokke by verskeie items by die skool, insluitend rugby, krieket en die Meneer en Mejuffrou Kocksoord. Atletiek was egter vir hom die hoogtepunt,” het Petro gesê.

“As wenpaalbeampte het hy altyd opgewonde geraak, langs die baan gehardloop, geskreeu en atlete aangemoedig met daardie duidelike stem van hom om vinniger te hardloop. By die wenpaal was daar altyd orde en dissipline.”

Johan en sy vrou, Susan, het ook die eerste kleutergroep by die skool begin.

“Als adjunkhoof was hy grootliks verantwoordelik vir die akademie, wat hy baie ernstig opgeneem het. Hy was op hoogte van die kurrikulum van die hele Intersenfase. Niemand durf met hom daaroor stry nie – hy was altyd reg, met konkrete bewyse!

“Met al die verpligtinge het hy nooit gekla nie en altyd geglimlag,” het Petro bygevoeg.

Op 12 Oktober 2017 het die skool afskeid van Johan geneem nadat hy op mediese pensioen geplaas is na ‘n beroerte op 48.

“Johan was regtig vir my ‘n ware vriend, steunpilaar, klankbord en konfidant! Ek ken hom van 2002 af, toe ek by die skool aangesluit het. Hy was my mentor. Ek het Afrikaans by hom oorgeneem toe ek departementshoof geword het, maar kon nooit sy standaard handhaaf nie – hy was net formidabel,” het Petro gesê.

Sy sê Johan sal altyd ‘n spesiale plek in haar hart hê as ‘my mater en kleinboet’.

“Johan is nou tuis én tuis! Mag jy rus in vrede. Johan, ek salueer jou!”

Rian van Graan, oud-skoolhoof, het ook sy huldeblyk gedeel:

“Dit is met intense hartseer dat ons afskeid neem van ‘n waardevolle vriend en kollega. Johan se insette by Laerskool Kocksoord en die skoolgemeenskap getuig deurgaans van volgehoue en uitsonderlike gehalte diens.”

“Johan en sy vrou se kuiers by ons was ‘n bewys van ons band en versag ons hartseer oor sy heengaan. Ons hou almal wat tans treur in ons gebede. Rus in vrede, Johan.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Randfontein Herald in Google News and Top Stories.

Chanté Bolton

Chanté Bolton started her journalism career at the Roodepoort Record in 2023. In February 2024, she joined the Randfontein Herald family. She received her BA in Communication from the North West University in 2021. In 2022 she received her BA Honours degree in English Language and Literature. Chanté wants to be the voice of the community.

Related Articles

Back to top button