Palm Eiendomme bring glimlagte na Angel Kids Day Care
Angel Kids Day Care Centre ontvang speelgoeddonasie van Palm Eiendomme om jong leerders te help ontwikkel.
Palm Eiendomme het op 14 Januarie ’n spesiale bydrae gelewer om leerders by Angel Kids Day Care Centre van broodnodige speelgoed te voorsien.
Die eienaar van Palm Eiendomme, Frans le Grange, het saam met sy personeel verskeie speelgoedskenkings aan die stigter van die dagsorgsentrum, Ilana Dickens, oorhandig.
“As ’n eiendomsagentskap beweeg ek baie rond en sien daagliks waar die dorp se behoeftes lê. Ek en my personeel het toe, met ondersteuning van die gemeenskap, besluit om speelgoed in te samel en dit aan Angel Kids Day Care Centre te skenk,” het Frans verduidelik. Hy het verder bygevoeg dat dit vir hom en sy span ’n groot eer is om op so ’n praktiese wyse by die gemeenskap betrokke te wees.
Volgens Ilana is Angel Kids Day Care Centre in Mei 2025 gestig nadat sy haar werk verlaat het om haar passie vir kinders na te jaag. “Ek het ’n besonder groot liefde vir kinders en dit is waar my hart lê,” het sy gesê.
Sy het verder verduidelik dat die sentrum voorsiening maak vir leerders van twee jaar tot en met graad R. Die doel is om ’n stewige opvoedkundige grondslag te lê, sodat geen kind sonder basiese lees- en skryfvaardighede skool toe gaan nie.
“Baie van die kinders wat ons bystaan, kom uit behoeftige huishoudings. Daarom sorg ons ook dat hulle drie maaltye per dag ontvang, wat hul fokus en ontwikkeling aansienlik verbeter,” het sy bygevoeg.



