Van pensioen na prediking: Pastoor Greyling se roeping duur voort
Na dekades van prediking stig Pastoor Greyling sy eie kerk en fokus op die redding van siele.
Na 21 jaar se bediening in die Volle Evangelie Kerk in Magaliesburg het plaaslike pastoor Herman Greyling besef sy roeping is nog nie voltooi nie en het besluit om sy eie bediening te stig.
Herman verduidelik dat hy ná sy aftrede gevoel het sy bediening is nie klaar nie, en daarom die kerk Yeshua Hamashiach gestig het.
“Die Woord van die Here sê ons moet red, genees en doop met Sy gees. Dis waarvoor die Here my geroep het,” het Herman gesê.
Herman preek uit die 1933-vertaling van die Bybel. Die kerk hou tans oggenddienste op Sondae en bidure op Woensdae, en beplan om in die toekoms ook aanddienste aan te bied. Hy beklemtoon dat hy nooit oor geld preek nie.
Herman het verder verduidelik dat hy geroep voel tot die bediening. Hy is gebore met ’n spraakgebrek en het gehakkel. Hy het ’n belofte aan die Here gemaak dat hy nooit oor geld sou preek nie, sou sy spraakgebrek genees word – en dit is.
Hy het ook vier hartaanvalle oorleef, sowel as ’n onlangse ongeluk waarin ’n trok agter hulle vasgery het. Ondanks dat hy agter in die kar gesit het, het hy ongedeerd uitgeklim.
Sy vrou, Andrea, het bygevoeg: “Die Here is goed.”
Herman doen nie net die prediking nie, maar maak ook die musiek vir sy bediening.
“Vir die afgelope 25 jaar preek ek van die Evangelie, redding, saligmaking en die lewe hierna. My missie is die redding van siele,” het Herman afgesluit.



