Saam teen boelies: Skole en ATKV vat hande
Leerders van Rapportryer en Randfontein het geleer om braaf te wees en op te staan vir mekaar.
Die ATKV Comenzo-tak het onlangs twee plaaslike laerskole, Rapportryer en Randfontein, besoek om saam met leerders standpunt in te neem teen boeliegedrag in skole.
Volgens Martie Erasmus van die tak was die inisiatief se doel om afknouery hok te slaan en leerders bewus te maak van die impak wat boeliegedrag op ander het. In samewerking met Senario Produksies is vier opvoedkundige vertonings aangebied wat op ’n toeganklike en interaktiewe manier die onderwerp van boeliegedrag aangespreek het.


Sy het bygevoeg dat die leerders hulle met oorgawe in die vertonings ingeleef het.
“Dit was vir ons besonders om te sien hoe elke kind verstaan wat aangaan en hoe hulle werklik deel geword het van die boodskap. Die reaksie was puik, en ons is ongelooflik trots op die twee skole wat saam met ons opstaan teen boelies,” het sy gesê.
Sy het ook haar waardering teenoor Senario Produksies uitgespreek vir hul professionele aanbieding en betrokkenheid by die projek.
“Julle het die boodskap op ’n manier oorgedra wat leerders nie gou sal vergeet nie.”
Die kernboodskap van die besoeke was duidelik: wees braaf en staan op vir mekaar. Leerders is aangemoedig om nie stil te bly wanneer hulle boeliegedrag sien nie, maar om ondersteuning te bied aan maats wat afgekraak of uitgesluit word.

Martie glo dat elke kind die potensiaal het om ’n positiewe verskil te maak.
“Kom ons wees braaf. Kom ons staan op vir mekaar teen boelies in skole. Laat elke boelie besef hulle kan liewer buitengewoon, braaf en bont wees. Saam maak ons almal ’n beter span.”
Die ATKV Comenzo-tak sê hulle bly verbind daartoe om projekte aan te bied wat nie net opvoedkundig is nie, maar ook help om ’n veilige en ondersteunende skoolomgewing vir alle leerders te bevorder.
Lees hier: Kom vier moeder-dogter-bande en steun Wes-Randse Skool



