Kom vier moeder-dogter-bande en steun Wes-Randse Skool
Geniet ’n oggend vol vermaak, stalletjies en lootjies op 9 Mei by Wes-Randse Skool se moeder-dogter-tee – fondse ondersteun leerders én ’n plaaslike kinderhuis.
Inwoners word uitgenooi om op 9 Mei ’n dag vol pret en samehorigheid te beleef tydens die Wes-Randse Skool se moeder-dogter-tee, wat as fondsinsameling dien.
Volgens die organiseerder, Minette Maritz, is hierdie ’n algemene fondsinsameling vir die skool. Kaartjies kos R220 per persoon. Verskeie vorme van vermaak, insluitend lootjies en stalletjies, sal aangebied word.
Die fondsinsameling dra by tot belangrike skoolprojekte, soos die ontwikkeling van ’n veilige speelgrond en die verskaffing van bystandstoestelle, soos rolstoele, aan leerders.
“Die uitstallers kom uit die Krugersdorp-gemeenskap en sommige ondersteun die Wes-Randse Skool-familie al vir lank. Hulle bied onder meer handgemaakte kerse en seepies aan,” vertel Minette.

Sy voeg by dat nie al die fondse net vir die skool aangewend sal word nie – 10% van die opbrengs gaan ook aan ’n plaaslike kinderhuis.
“Dit gaan ’n besonders spesiale moeder-dogter-dag wees en ons het die gemeenskap se ondersteuning nodig,” sê sy. Vir die dag word donasies vir geskenksakkies benodig, soos penne, snesies, lekkers en handeroom.
Lees hier: Have your say on public health fees
Minette moedig die gemeenskap aan om hierdie belangrike dag in hul kalender aan te dui en die kinders te ondersteun. Belangstellendes kan haar kontak by 084 517 9540 om die dag vol pret by te woon.



