Bring jou eetlus – die Vleisfees is terug!
Die sesde Sionspoort Vleisfees keer terug met gewilde vleisgeregte, honderde uitstallers en 'n indrukwekkende kunstenaarsprogram.
Sionspoort se gewilde jaarlikse Vleisfees keer vanjaar terug met ‘n groter aanbod van kos, vermaak en aktiwiteite, terwyl besoekers weer kan uitsien na verskeie stalletjies, bekende kunstenaars en selfs die Gauteng Boogskietkampioenskappe.
Die fees, aangebied deur die Sionspoort Hervormde Kerk, vind op Saterdag, 1 Augustus by die Tuinhekkie in Randfontein plaas. Feestelikhede begin om 08:00 en duur tot laat.
Volgens die mediabestuurder van die fees, Appel Ernst, is die organiseerders opgewonde om die sesde aanbieding van die Vleisfees aan die publiek bekend te stel.
“Elke jaar probeer ons iets nuuts byvoeg, maar ons behou steeds die gunstelinge waarvoor mense die Vleisfees leer ken het. Ons sien uit daarna om besoekers van oral af te verwelkom,” sê Appel.

Die fees is veral bekend vir sy vars vleisprodukte en vanjaar sal Ouma-boerewors en ‘n verskeidenheid vars vleis weer beskikbaar wees, hoewel Appel waarsku dat voorraad beperk is.
“Ons beveel aan dat mense vroeg opdaag indien hulle van die vars vleis wil koop, aangesien dit gewoonlik baie gewild is,” sê sy.
Besoekers sal ook kan smul aan skaap en krokodil op die spit, boereworsrolle, skilpadjies, kaiings, sosaties en talle ander vleisgeregte. Daar sal ook vetkoek, hamburgers, prego-rolle, gedraaide aartappels en ander eetgoed beskikbaar wees.
• Lees ook: Sionspoort Vleisfees wen harte van Wes-Kaap tot oorsee

Meer as net vleis
Sowat 300 stalletjies sal ‘n verskeidenheid handgemaakte en plaaslike produkte aanbied, insluitend juwele, klere, seep, gebak, lekkers en ander unieke items.
Die fees bied ook verskeie aktiwiteite vir kinders en gesinne, waaronder mallemeulritte, kameelritte, trampoliens en ritte met die REMAX-lugballon.
‘n Besonderse toevoeging tot vanjaar se program is die Africa Genesis Archery (AGA) Gauteng Boogskietkampioenskappe, wat aangebied sal word. Ongeveer 250 jong boogskutters sal aan die kompetisie deelneem.

“Ons is baie trots dat die Gauteng Boogskietkampioenskappe deel van die Vleisfees vorm. Dit is ‘n belangrike byeenkoms op die boogskietkalender en ons is bevoorreg om hierdie jong sportlui te kan ondersteun,” sê Appel.
Volgens haar dien die uitslae van die kampioenskap as ‘n maatstaf vir die aanwys van die Gauteng-span ná afloop van die byeenkoms.
Musiek en vermaak wag
Musikale vermaak sal deur die dag aangebied word onder leiding van Tanya V. Kunstenaars wat gaan optree sluit in Ruhan du Toit, Danny Smoke, Ons, Lisie Basson, Skemer, Venter, Shakira Peach, Rubber Duc, Richann Brüssow, Sonder Onderbroeke en Chernae.

Toegang kos R50 vir volwassenes en hoërskoolleerders, R30 vir laerskoolleerders, terwyl kinders jonger as ses jaar gratis toegang geniet.
Volgens die organiseerders sal besoekers nie hul eie stoele mag saambring nie. Sambrele, gazebo’s en koelhouers sal ook nie by die fees toegelaat word nie. Toegangskaartjies sal slegs by die hekke op die dag van die fees beskikbaar wees.
“Ons doel is om ‘n dag te skep waar die hele gesin iets kan geniet – of dit nou die kos, musiek, inkopies of aktiwiteite is. Ons sien daarna uit om almal by vanjaar se Vleisfees te verwelkom.”
Vir meer inligting oor die program en ander besonderhede kan besoekers die Sionspoort Vleisfees se webwerf besoek.



