Local newsUpdate

Sionspoort Vleisfees wen harte van Wes-Kaap tot oorsee

Mense van heinde en verre het bymekaargekom om te sosialiseer, te lag en te smul tydens Sionspoort se hoogs suksesvolle Vleisfees, waar organiseerders hul opregte dankbaarheid uitgespreek het.

Sionspoort Hervormde Kerk se Vleisfees het voorverlede naweek die kollig op Randfontein geplaas en besoekers so ver as die Wes-Kaap en selfs oorsee gelok. Organiseerders het graag almal bedank en ’n paar hoogtepunte uitgelig.

Volgens die kerk se woordvoerder, Appel Ernst, het die vreugdevure reeds vroegoggend begin knetter, en selfs die bibberweer kon besoekers nie afskrik nie. Sy het bygevoeg dat van die verste besoekers van George, Nelspruit, Middelburg en oorsee gekom het.

Woordvoerder Appel Ernst. Foto: Anica van der Westhuizen.

Twee verhoë het geglinster met 17 kunstenaars, waarvan ’n paar bekende name insluit: Wynand en Chereé, Adam Tas, John Rock Prophet, Prop, Ivan Roux en Bobby van Jaarsveld. TV-persoonlikheid Vanes-Mari du Toit en vermaaklikheidskunstenaar Anton Fichat het as seremoniemeesters opgetree.

• Lees ook: Fotogalery: Krokodil op die spit en glimlagte by Sionspoort se Vleisfees

Boonop was daar ’n wye verskeidenheid kos, insluitend Indiese en Griekse geregte, Suid-Afrikaanse braaivleis, kerrie en rys, pannekoek, vetkoek en liplek-lekker ribbetjies.

Die vleis op die spit. Foto: Anica van der Westhuizen.

“Die krokodil op die spit het ook weer groot aftrek gekry, en sommige gaste het om die braaivleisvuur gekuier,” het Appel opgewonde vertel.

TV-sjef Tommy Dickson, oftewel Chef Vaatjie, het vleisdemonstrasies aangebied.

• Lees ook: Van kos tot kuier: Sionspoort se Vleisfees lok groot skare

Vir die eerste keer het die Vleisfees ’n mallemeule gehad, waar die jeug hulself kon geniet. Die meganiese bul- en kameelritte was ook gewild. Die Slaglamkompetisie het drie wenners opgelewer wat ’n prys van R28 000 gedeel het.

Een van die motors wat uitgestal is. Foto: Anica van der Westhuizen.

Die Veteraanmotorskou het 32 inskrywings gelok, en die wenners het trofeë en geskenkpakke ontvang.

Dr Johan van Staden het die dag soos volg opgesom:

“Ek loop ’n vyfjarige en sy pa op die fees raak, en ek sê vir die outjie wat op sy pa se skouers sit: ‘Jy het darem vinnig gegroei!’ Hy lag en sê: ‘Hierdie is nie alles ek nie!’ Ons sê ook dis nie alles ons nie – aan God ál die eer! Dankie vir die positiewe terugvoer: Positief oor die gasvryheid van ons mense, die samehorigheid van jonk en oud, die lag van kinders en die uitreik na vreemdelinge. En die uitstaande kwaliteit van die reëlingskomitee en die gesindheid en harde werk van die gemeente. Ons lees in Kolossense 2:16 dat niemand ’n ander moet oordeel oor wat hulle eet of drink of oor ’n fees wat hulle hou nie. God het ons fees geseën, en daaroor is ons dankbaar. Laat ons met nederigheid en dankbaarheid feesvier – nie net omdat dit lekker is nie, maar omdat dit ’n diep Bybelse daad van geloof is.”

Appel het die gemeenskap bedank vir hul ondersteuning.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Randfontein Herald in Google News and Top Stories.

Dominique Duvenhage

Dominique Duvenhage joined the Randfontein Herald team in 2023. From a young age, she developed a great fascination with words and language. At the age of 12, she started writing novels and thereafter eventually began to write poems. Being a journalist is not a job for her, it is a career. As your community journalist, she has taken a pledge to write truthfully and reliably.

Related Articles

Back to top button