Local news

Video: Van boogskiet tot boerewors: Sionspoort Vleisfees het dit alles

Die Sionspoort Vleisfees is in volle swang met heerlike kos, honderde stalletjies en ’n dag vol vermaak. Kyk wat kunstenaars soos Ruhan du Toit, Rubber Duc en Shakira Peach sê oor wat besoekers vandag kan verwag.

Die gewilde Sionspoort Vleisfees het vanjaar weer afgeskop en bring ’n verskeidenheid kos, vermaak en aktiwiteite vir die hele gesin. Benewens die fees se bekende vleisprodukte en optredes deur geliefde kunstenaars, kan besoekers ook die Gauteng Boogskietkampioenskappe bywoon.

Die fees, wat deur die Sionspoort Hervormde Kerk aangebied word, vind vandag (1 Augustus) by Die Tuinhekkie in Randfontein plaas. Die hekke het reeds om 08:00 geopen en die program duur tot laat.

Volgens die fees se mediabestuurder, Appel Ernst, is die organiseerders opgewonde om die sesde Sionspoort Vleisfees aan te bied.

“Elke jaar probeer ons iets nuuts byvoeg, maar ons behou steeds die gunstelinge waarvoor mense die Vleisfees leer ken het. Ons sien uit daarna om besoekers van oral af te verwelkom,” sê Appel.

Vleis bly die fees se trekpleister

Die Vleisfees is bekend vir sy vars vleisprodukte, en besoekers kan weer vanjaar uitsien na Ouma-boerewors en ’n verskeidenheid vars vleis. Appel herinner egter dat voorraad beperk is en moedig besoekers aan om vroeg op te daag.

“Ons beveel aan dat mense vroeg opdaag indien hulle van die vars vleis wil koop, aangesien dit gewoonlik baie gewild is,” sê sy.

Ruhan du Toit. Foto ingestuur

Daar sal ook ’n verskeidenheid kosopsies beskikbaar wees, insluitend skaap en krokodil op die spit, boereworsrolle, skilpadjies, kaiings, sosaties en ander vleisgeregte. Besoekers kan ook smul aan vetkoek, hamburgers, prego-rolle, gedraaide aartappels en ander lekkernye.

Ruan du Toit: https://www.facebook.com/share/r/1LFPXyME57/

Vermaak vir die hele gesin

Meer as 300 stalletjies sal besoekers lok met handgemaakte produkte en plaaslike items soos juwele, klere, seep, gebak, lekkers en nog vele meer.

Kinders en gesinne kan die dag geniet met aktiwiteite soos mallemeulritte, kameelritte, trampoliens en ritte met die RE/MAX-lugballon.

Boogskietkampioenskappe bring jong talent bymekaar

Een van vanjaar se hoogtepunte is die Africa Genesis Archery (AGA) Gauteng Boogskietkampioenskappe, waar sowat 250 jong boogskutters aan die kompetisie sal deelneem.

“Ons is baie trots dat die Gauteng Boogskietkampioenskappe deel van die Vleisfees vorm. Dit is ’n belangrike byeenkoms op die boogskietkalender en ons is bevoorreg om hierdie jong sportlui te kan ondersteun,” sê Appel.

Sy verduidelik dat die uitslae van die kampioenskap gebruik word as maatstaf vir die aanwys van die Gauteng-span ná afloop van die byeenkoms.

Rubber Duc: https://www.facebook.com/share/r/1brEite4vF/

Shakira Peach. Foto ingestuur

Musiek en optredes deur die dag

Tanya V sal die musikale vermaak aanbied, met optredes deur Ruhan du Toit, Danny Smoke, Ons, Lisie Basson, Skemer, Venter, Shakira Peach, Rubber Duc, Richann Brüssow, Sonder Onderbroeke en Chernae.

Toegang kos R50 vir volwassenes en hoërskoolleerders, R30 vir laerskoolleerders, terwyl kinders jonger as ses jaar gratis toegang kry.

Organiseerders herinner besoekers dat eie stoele, sambrele, gazebo’s en koelhouers nie by die fees toegelaat word nie. Toegangskaartjies sal slegs by die hekke op die dag van die fees beskikbaar wees.

“Ons doel is om ’n dag te skep waar die hele gesin iets kan geniet – of dit nou die kos, musiek, inkopies of aktiwiteite is. Ons sien daarna uit om almal by vanjaar se Vleisfees te verwelkom.”

Vir meer inligting oor die program en ander besonderhede kan besoekers die Sionspoort Vleisfees se webwerf besoek.

Shakira Peach: https://www.facebook.com/share/r/1HGkEGGLnu/

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Randfontein Herald in Google News and Top Stories.

Clinton Botha

For more than 4 and a half years, Clinton Botha was a journalist at Roodepoort Record. His articles were regularly published in the Northside Chronicle now known as the Roodepoort Northsider. Clinton is also the editor of Randfontein Herald since July 2020. As a sports fanatic he wormed his way into various "beats - as the media would know it - and admits openly that his big love always have something to do with a scoreboard, crowds and usually a ball that hops.

Related Articles

Back to top button