Local news

Soli Deo Gloria bring ’n musikale belewenis na Randfontein

Die Johannesburg WA Mozart Choir en Hoërskool Oos-Moot se blaasorkes tree tydens NHK Sionspoort se jaarlikse musiekkonsert op.

Musiekliefhebbers kan uitsien na ’n middag van koorsang, blaasorkesmusiek en orrelklanke wanneer NHK Sionspoort op Sondag 25 Oktober sy jaarlikse Soli Deo Gloria-musiekkonsert tydens Hervormingsondag aanbied.

Die konsert begin om 13:00 by die kerk in Van Deventerstraat 89, Randgate, en toegang is gratis.

Volgens Rudi van Wyk, orrelis van Sionspoort en organiseerder van die konsert, het die gemeente oor die jare ’n tradisie daarvan gemaak om op Hervormingsondag ’n musiekgeleentheid aan te bied wat vir die gemeente én die breër gemeenskap toeganklik is.

“Die doel is om vir mense ’n tuiste te bied in Randfontein om ’n groot musiekkonsert by te woon. Mense van Randfontein moet altyd ry vir so iets, en ons het die laaste klomp jare by Sionspoort dit moontlik gemaak om minstens een so ‘n konsert per jaar aan te bied,” sê Van Wyk.

Hervormingsondag word jaarliks op die laaste Sondag van Oktober gevier. Vanjaar is dit 509 jaar sedert Martin Luther sy 95 stellings teen die kerkdeur in Wittenberg, Duitsland, vasgespyker het.

Die naam Soli Deo Gloria beteken “Aan God alleen die eer” en verwys na een van die sola’s wat met die kerkhervorming verbind word.

Van Wyk haal die komponis Johann Sebastian Bach aan: “The aim and final end of all music should be none other than the glory of God and the refreshment of the soul.”

Volgens Van Wyk wil die konsert ook die waarde van musiek as bron van vertroosting en inspirasie beklemtoon.

“’n Uur konsert is genoeg om die siel van die mens te verkwik en te restoureer. Om na mooi musiek te luister wat uitgevoer word deur lewendige kunstenaars wat hard werk en ure daaraan oefen, bring vir die mens nuwe perspektief en ’n lus om aan te gaan met die lewe,” verduidelik hy.

Koor- en orkesmusiek

Vanjaar se program bring die Johannesburg W.A. Mozart Choir en Hoërskool Oos Moot se blaasorkes saam met die gemeente se pyporrel.

Die Johannesburg W.A. Mozart Choir is ’n gemeenskapskoor uit Roodepoort en die groter Johannesburg-omgewing, onder leiding van Jana Barnard. Van die koorlede kom ook van Randfontein. Die koor se repertoire sluit klassieke musiek, ligte opera, musiekblyspele en ligter musiek in.

Besoekers kan uitsien na vertolkings van Koos du Plessis se gewilde gebed en Mozart se Lacrymosa, asook vrolike Duitse volksmusiek. Die koor sal ook saam met die blaasorkes en orrel optree tydens die samesangliedere op die program.

Hoërskool Oos Moot van Pretoria se blaasorkes, onder leiding van Andréas van der Walt, bring ongeveer 28 lede na die konsert.

Die orkes se repertoire vir 2026 sluit onder meer Disney se Intro deur Leigh Harline, ’n Pirates of the Caribbean Medley deur Hans Zimmer en Klaus Badelt, Semper Fidelis deur J.P. Sousa en Star Wars: A Medley deur John Williams in.

Van die orkeslede sal ook saam met die gemeente se pyporrel speel tydens die samesang. Van der Walt is die afgelope vier jaar dirigent van Hoërskool Oos Moot en is ook by Hoërskool Wonderboom se musiekdepartement betrokke. Hy neem verder aan verskeie gemeenskapsprojekte deel wat met musiek verband hou.

Volgens Van Wyk sal ongeveer 70 rolspelers vanjaar aan die program deelneem.

“Ons hoop is dat vanjaar se konsert met ongeveer 70 rolspelers wat aan die program deelneem, weer iets sal wees wat die gemeenskap lank kan onthou,” sê hy.

Musiek vir die gemeenskap

Sionspoort wil deur die jaarlikse konsert musiekliefhebbers in Randfontein die geleentheid bied om ’n musiekervaring van ’n hoë standaard in hul eie dorp te geniet.

Van Wyk sê die gemeente glo dat dit ook ’n ligtoring vir die gemeenskap moet wees en, waar moontlik, musiekprogramme moet aanbied wat inwoners bevoordeel.

“Musiek is van die vroegste tye af die enigste manier waar mense saamgebind word. Mens kan as ’t ware sê musiek bring mense bymekaar en sorg vir ’n wonderlike ervaring om die moeë siel te restoureer,” sê hy.

Toegang is gratis om te verseker dat belangstellendes nie weens koste uitgesluit word nie. Besoekers hoef nie vooraf te bespreek nie en kan op die dag opdaag. Parkering is rondom die kerkgebou beskikbaar.

Kollekte ten bate van die orrelfonds

’n Sagte kollekte sal tydens die konsert gehou word ten bate van die gemeente se orrelfonds, wat gebruik word om die pyporrel in stand te hou.

Van Wyk verduidelik dat die instandhouding van ’n pyporrel baie duur is en dat ’n fonds jare gelede gestig is om die nodige jaarlikse onderhoud moontlik te maak.

In 2025 was daar genoeg geld in die fonds om groot instandhoudingswerk te doen, en Fase 1 is reeds afgehandel. Die geld wat tydens vanjaar se konsert ingesamel word, sal ook in die fonds beland.

Binne die volgende twee jaar moet die orrel se blaasbalke nuwe leer kry om te verseker dat die instrument in uitstekende toestand bly vir gemeentelike samesang en groot uitvoerings.

Van Wyk hoop dat besoekers lank ná die konsert steeds aan die musiek sal terugdink.

“Musiek het ’n manier om in die mens se siel te kom lê. Die klank van dit wat gehoor is, sal lank ná die afloop van die konsert steeds in die gedagtes weerklink,” sê hy.

Sionspoort beoog ook om volgende jaar weer ’n koorfees in die kerkgebou aan te bied, waartydens die dorp se skole en kinders by ’n samekoms van koorsang en musiek betrek sal word.

Die Soli Deo Gloria-konsert vind op Sondag 25 Oktober om 13:00 by NHK Sionspoort, Van Deventerstraat 89, Randgate, plaas. Toegang is gratis. Vir navrae kan die kerkkantoor by 011 412 3163 gekontak word.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Randfontein Herald in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button