Schools

RAM stel sy nuwe personeel voor

'n Handvol nuwe RAM-personeellede het met die Herald gesels oor hul liefde vir onderwys.

Laerskool Randfontein se nuwe personeellede en studente het hulself voorgestel aan die gemeenskap.

Bianca Jansen van Vuuren het die aflospos ingeneem as graad 2 onderwyser. Bianca beskryf haarself as ‘n 26-jarige individu wat passievol is oor twee uiteenlopende wêrelde. Haar eerste beroepsliefde is onderwys, maar wanneer sy nie in die klaskamer is nie, is sy besig om oorsee te toer. Sy vertel dat hierdie twee beroepe haar ‘n ryk lewenservaring bied.

“Ek is in die onderwys omdat ek daarin glo om ‘n positiewe impak op die lewens van kinders te maak. Die vreugde van hul ontdekkinge en die groei van hul vaardighede bring nie net betekenis aan my werk nie, maar skep ‘n fondasie vir ‘n suksesvolle toekoms. Die interaksie met kinders bied ‘n konstante bron van inspirasie en ‘n geleentheid om hulle liefde vir leer te kweek,” vertel Bianca.

Die 24-jarige Ashley Cowen is aangestel as Natuurwetenskappe en Tegnologie (NWT) onderwyser vir graad 5. Ashley verduidelik dat sy onderwys gekies het as gevolg van die liefde wat sy vir kinders ontdek het. Sy wil graag hê dat kinders hul geleenthede ten volle benut sodat hulle ‘n blink toekoms kan uitleef. Ashley hou ook daarvan om te sien watter vrugte die leerders pluk wanneer hulle sukses behaal.

Ashley Cowen.

“Onderwys bied vir my lag sonder ophou. Ek smag daarna om ten minste een keer in ‘n dag kinders te laat lag of hul die geleentheid te gee om ons te laat lag. Sonder lag is die lewe suur en pouses is gewoonlik verder weg,” sê Ashley.

Een van die nuwe studente is die 19-jarige Chanel Kleynhans. Chanel beskryf haarself as vriendelik, saggeaard en liefdevol. Chanel het onderwys as beroepsrigting gekies omdat dit haar grootste droom was vandat sy jonk was. Sy geniet gereelde natuuruitstappies, oefening en om tyd saam geliefdes te spandeer.

“Ek het ‘n groot liefde vir kinders en die Here het hierdie beroep op my pad gesit sodat Hy ‘n verskil in kinders se lewens kan maak,” vertel Chanel.

‘n Ander student is Jayde Mitchell. Jayde het verlede jaar gematrikuleer by Hoërskool Riebeeckrand en die besluit gemaak om by Aros verder te studeer vir onderwys.

“Ek wil nie weet wie die hoofseun of top presteerder is nie. Ek soek dié met die af vlerkies, ek wil hulle leer vlieg. Ek wil vir kinders ‘n voorbeeld wees en wys dat jy bo jou omstandighede kan uitblink en dat jy kan vlieg, al het jy net een vlerk,” sluit Jayde af.

Related Articles

 
Back to top button