Riebeeckrand is die toneelkonings!
Hoërskool Riebeeckrand se opwindende toneelspel het aan hulle 'n 100% RACA Eistedfodd-toekenning besorg.
Die wonderlike vertoning van Hoërskool Riebeeckrand se toneelstuk, Lugkasteel, het vir hulself ‘n perfekte prestasie by die RACA Eistedfodd besorg.
Op 5 September het die gehoor in afwagting hul stoele ingeneem om die toneel te geniet. Die saal is met rommel versier om ‘n ashoop na te boots. Die inwoners in die toneel het die bottels bymekaargemaak om ‘n lugkasteel te bou.
Die hoofkarakter, Prediker (gespeel deur Gianni de Lange), wou ‘n huis vir haweloses bou. Dwarsdeur die vertoning het Prediker twee dreigemente, naamlik sy ma se stem wat hom neerdruk asook die varke en molle wat die inwoners se veiligheid bedreig.
“Lugkasteel is ‘n storie van hoop. Dat die donkerte van die verlede nie vir ons is om te dra nie. Dat ons na ons drome moet reik en nie luister na die stemme wat ons probeer oortuig dat ons nie goed genoeg is nie. Om op die ashoop te bly klink dalk na iets wat nooit met jou sal gebeur nie, maar die tema skree dit uit: Wat jy is, is net genade en wat jy het, is net geleen,” het die vervaardiger van die regie en teks Annelize Erasmus uitgespreek.
Die rolle is vertolk deur Carien Barkhuizen, Cathlyn Pienaar, Delia Beukman, Gianni de Lange, Jamie Holmes, Janco Jacobs, Khanya Malamba, Mahlatse Molubi, Mikayla Fleischer, Tian de Jager en Zonique Meyer.
Volgens Annelize was hierdie toneel deel van hul RACA Eistedfodd-deelname waar hulle 100% behaal het met ‘n diamantvertoning. Op 16 September gaan hulle aan die Nasionale Eistedfodd Akademie deelneem. Vroeg in die vierde kwartaal bied die skool ook ’n kultuuraand aan waar die toneel vir oulaas opgevoer word.
“Riebeeckrand is ‘n skool wat trots agter hul kuns- en kultuurafdeling staan. Ons is in ekstase oor die pragtige terugvoer wat ons van RACA ontvang het en hoop om daarop voort te bou vir toekomstige optredes,” het Annelize afgesluit.