Rappies kry hul eie Willie Wikkelwurms
Lede van die VLU Ridderspore-tak het hul bekende wikkelwurms by Laerskool Rapportryer uitgedeel.
Lede van die Vroue Landbou-unie (VLU) Ridderspore-tak het Laerskool Rapportryer besoek om hul bekende Wikkelwurms aan die leerders te versprei.
Voorsitter van die tak, Gerda Benadie, het verduidelik dat die unie uit vroue bestaan wat vaardighede soos naaldwerk, kook en brei aanleer. Lede van die tak het toe op 21 Oktober ’n selfgemaakte wolwurm vir Laerskool Rapportryer se leerders gebring.
Volgens Gerda word dié wollerige wurm Willie Wikkelwurm genoem. Hierdie wurms is deel van ‘n projek waar die VLU-lede dit hekel en na skole versprei.
“Wanneer jy hierdie wurm op ‘n slegte dag vashou, weet jy dat die wurm net so sterk is soos jy. Jy kan die wurm trek en draai so baie soos wat jy wil en hy sal teruggaan na sy oorspronklike vorm. Hy is daar om vir jou versekering te gee wanneer jy alleen voel,” het Gerda uitgedruk.
Die leerders was opgewonde om elk hul eie wikkelwurm te ontvang.



