Meesterstukke deur Riebeeckrand
Hoërskool Riebeeckrand se kunsuitstalling word as 'n reuse sukses beskou met meer as 200 gaste en 76 leerders se kunswerke.
Hoërskool Riebeeckrand hou hul jaarlikse kunsuitstalling met die doel om die werk van die graad 10- tot 12-leerders deur die jaar ten toon te stel.
“Soos altyd was dit ‘n aand vol kreatiwiteit, inspirasie en groot opgewondenheid. Dit was ‘n pragtige byeenkoms waar die vrugte van die leerders se harde werk en toewyding oor die jaar ten toon gestel is,” het Melindi Jacobs, die kunsonderwyser by die skool gesê.
“Op 17 Oktober is werke van die Visuele Kunste-leerders sowel as die kuns- en fotografieklub met trots uitgestal. Altesaam 76 leerders se werk is uitgestal en meer as 200 gaste het die geleentheid bygewoon.”
Sy het verduidelik dat hierdie jaar ‘n spesiale uitstalling was omdat die fotografieklub by die uitstalling aangesluit het. Een van hul eerste aktiwiteite was ‘Leading Lines’ waar hulle net foto’s moes neem binne die skoolterrein. Die graad 11 en 12 Visuele Kunste-leerders het ook hul werk vanaf graad 10 en 11 vertoon om hul groei oor die jare te wys. Die besoekers kon dus hul ontwikkeling in tegniek en selfuitdrukking volg.
Die doel van die uitstalling was meer as net om die leerders se werk te vertoon.

“Dit was ‘n platform waar elke leerder erkenning vir hul talent kon ontvang en ‘n geleentheid vir ouers, vriende en onderwysers om die vrugte van die leerders se harde werk te sien.”
Die uitstalling, wat met soveel sorg en aandag aan detail georganiseer is, was die breinkind van twee van die skool se toegewyde kunsonderwysers, Melindi en Nadia Vosloo.
Melindi het voortgegaan deur te sê die uitstalling se tema vanjaar was ‘Surrealisme’, sy beskryf dit as ‘n ‘avant-garde beweging uit die 20ste eeu wat probeer het om die kreatiewe potensiaal van die onbewuste te ontgin deur onlogiese en dikwels irrasionele beelde te skep. gebruik’.

Stoele en tafels is in onkonvensionele posisies geplaas, insluitend om voor vensters te hang en die versnaperinge is op ongewone voorwerpe soos ‘n braairooster, driepoot-stoel en skaatsplank bedien. Die fotografieleerders het ook foto’s geneem van ‘n toilet wat rook, ‘n bord kos gemaak van gras en klippe en ‘n mannekyn wat in ‘n bed lê en TikTok kyk.
“Die kunswerke self het talle komplimente gelok, en sommige gaste was selfs so beïndruk dat hulle kunswerke wou aankoop. Dit was duidelik dat die leerders se talent en harde werk diep in die harte van die besoekers aanklank gevind het.”
Daar was ook, soos die tradisie is, ‘n interaktiewe kunswerk waaraan gaste kon deelneem. Melindi en die leerders het ‘n seekat van herwinbare materiaal gemaak wat hulle toe wit geverf het. Elke gas het ‘n kleurvolle plakker ontvang waarmee hulle die seekat kon versier.
“Die uitstalling was ‘n groot sukses en nog ‘n hoogtepunt. Dit was ‘n viering van talent, verbeelding en die ongelooflike vermoë van jong kunstenaars om hul drome en idees na die doek en in beeld te bring.”



