Juf Lettie groet Rappies na 24 jaar
Onderwyser by Laerskool Rapportryer groet na 24 jaar se diens by die skool en 42 jaar in onderwys.
Ná 24 jaar by Laerskool Rapportryer en 42 jaar in die onderwys, neem leerders en personeel afskeid van geliefde juffrou Lettie Esterhuizen (65).
Op 4 November het leerders en personeel in die saal bymekaargekom om van Lettie afskeid te neem. Juffrou Celeste Wentzel het ‘n afskeidslied uitgevoer waarna die leerders hul hande na die hemel opgesteek het.
Lettie het toe ‘n spreekbeurt gehad om haar seëninge vir die skool oor te dra.
“Daar is ‘n tyd om te kom en ‘n tyd om te gaan. Hierdie is my tyd. Rappies, julle sal altyd in my hart wees en ek glo hier kook ons wenners vir môre. Daardie baadjie wat jy dra, dra dit met trots; binne skool en buite. Ek sê vir julle baie dankie.
“Toe ek hier aangekom het, het ons harde bene gekou en ek glo vir ‘n klomp leerders het ek ‘n verskil gemaak. Ek dink ek het voetspore getrap wat almal sal onthou. Deur swaarkry en deur siektes het julle saam my gestaan,” het sy uitgedruk.
Lettie se loopbaan het in 1982 begin toe sy by Hoërskool Jan Viljoen as onderwyser aangesluit het.
By dié skool het sy Liggaamlike Opvoeding, Bybelkunde, Geskiedenis en Aardrykskunde vir graad agt tot matriekleerders onderrig.
Sy was ook ‘n rolspeler in die afrigting van verskeie sportsoorte, naamlik netbal, atletiek, hokkie, tennis en trompoppies. Tydens haar loopbaan by Jan Viljoen was sy ook betrokke by die organisasie van die waterkaskenades asook twee toere vir die Suidwes-atletiek.
Sy het gereeld prysuitdelings, matriekafskeide, reünies, pa-en-seundae asook die Rugbyfeesdag tussen Jan Viljoen en Hoërskool Monument gereël.
Haar loopbaan by Jan Viljoen eindig in 1999, waarna sy in 2000 by Rapportryer aangesluit het. Hier het sy Geestes- en Sosiale Wetenskappe, Tegnologie, Liggaamlike Opvoeding, EBW en SW gegee. Sy was ook die vakhoof van beide EMS en SW.
Sy het as afrigter vir atletiek, seunshokkie, mini-hokkie en revue gedien. Sy was ook die graad vyf Graadhoof en is een van die laaste Meester Onderwysers in Gauteng.
Lettie het op 5 November haar onderwysloopbaan by Laerskool Rapportryer voltooi, waarna sy afgetree het.