Twee Rammies presteer op sportgebied en kultuurvlak
Op die ouderdom van 13 en 10 onderskeidelik laat hierdie leerders nie op hulle wag om hul doelwitte te bereik nie.
Twee leerders van Laerskool Randfontein, Lowen en Leané Cordier wys wat hulle in beide sport en kultuur kan doen.
Jackie Bosch, hul tannie het verduidelik Lowen (10) neem aan beide skool- en klubkrieket deel. Hy was ook deel van die Randwes krieketspan wat bestaan uit spelers van skole in Randfontein, Fochville en Carletonville. Lowen was ook deel van die Gauteng-Wes Krieketspan.
Verder het hy aan die LPL Tasmanian Devils – National Premier League deelgeneem. Lowan speel ook graag rugby en is in die top 10 en top 20 vir akademie op skool.
Leané (13) het aan die RACA Eisteddfod sowel as die Allegretto en die Nasionale Eisteddfod van Suid-Afrika deelgeneem. Verder het sy aan die Roodepoort Dansfees asook die DanceStar Suid-Afrika en die Danswêreldbeker deelgeneem.
Sy speel ook vir die Leeus krieket en is deel van die RAMExtreme pom pom-groep. Vir skolenetbal het sy die Gauteng-proewe gehaal. Sy behaal ook altyd die top 10 vir akademie met ‘n gemiddeld bo 90%.
“Ons is albei baie dankbaar dat die Here ons geseën het met hierdie talente,” het die leerders gesê.
“Moet nooit ophou hard werk vir iets wat jy graag wil hê of bereik nie.”
Jackie het genoem dat hul kleinsus, Lize (5), ook vinnig in hul voetspore volg. Sy speel netbal en haar ouer broer en suster het haar leer krieket speel.



