Na 50 jaar steeds trots deel van Gerrit Maritz
In 1975 het twee personeellede as graad een-leerders by Gerrit Maritz Primêr begin en na 50 jaar is hulle steeds net so trots om deel van die skool te wees.

Vyftig jaar gelede het Raymond Diedericks en Tersia Rossouw, voorheen Du Plessis, as graad een-leerders by Laerskool Gerrit Maritz ingestap en vandag is hulle die hoof en departementshoof by die skool.
Tersia, nou departementshoof van die grondslagfase, het vertel dat sy en Raymond in 1975 in graad een was en haar suster was op daardie stadium ‘n onderwyser by die skool en het in die klas langs hare skoolgehou. Daar was ook net vier klasse graadeens gewees.
Sy onthou nog hoe sy daardie eerste dag gehuil het toe sy by die skool aangekom het. Die leerders het ook skool toe gestap of fietsgery.
“Ek kan nog ons pouses onthou. Ons het tou gespring en met jojos en albasters gespeel. Die terrein was toe nog net sand,” het Tersia bygevoeg.
Raymond kan nog onthou hoe hy bang was die eerste dag toe hy by die skool aangekom het.
“Daardie tyd was kleuterskole nie by die skool nie en die skool het groot gelyk. Dit was egter goeie tye. Ek kan selfs nog die struktuur van die skool onthou en dit is steeds soos dit was,” het Raymond verduidelik.
Hy het bygevoeg ‘streng was destyds ‘n ding, wat nogal iets is om te onthou’. Hy het ook genoem dat die onderwysers met wit kryt op swartborde geskryf het en hul skryfwerk op die bord was ‘n ‘kunswerk’.
Tersia sê sy het haar loopbaan as onderwyser by die skool begin en sal dit ook graag hier wil beëindig.
“Ek sal altyd deel van Gerrit Maritz wil wees,” het sy gesê.
Sy is al 21 jaar deel van die skool se personeel en al drie haar kinders het ook daar skoolgegaan.
Raymond het saamgestem en gesê hulle is die laaste twee personeellede wat so lank gelede daar begin het en steeds daar is.
Vir die leerders wat nou in graad een is, hoop albei dat hul skooldae gelukkig sal wees en hulle dit altyd sal onthou.
“Geluk skep herinneringe en ons hoop om ’n gelukkige skool vir die leerders en onderwysers te skep sodat hulle nooit die skool sal vergeet nie,” het Raymond gesê.