Rappies-leiers vol modderkolle en selfvertroue
Rappies se leiers het die uitdagings van natuur ten volle aangepak by die onlangse Camp Discovery leierkamp.
Laerskool Rapportryer se nuwe leiergroep het onlangs ‘n avontuurlustige kamp bygewoon waar hul karakter gebou het.
Volgens skoolwoordvoerder Celeste Wentzel het die leiers van Laerskool Rapportryer die geleentheid gehad om hul leierskapsvaardighede op te skerp.
Hierdie kamp was gevul met avontuur, spanbou-aktiwiteite en lewenslesse wat die leerders voorberei vir hul leiersrol in die skool en gemeenskap.

Die hoogtepunte van die kamp het wildritte, modderkruip, touswaai en produkies ingesluit.
“Deur middel van hierdie aktiwiteite het die leiers nie net van saamwerk en spanbou geleer nie, maar ook die belangrikheid van nederigheid ontdek. Leierskap gaan nie net oor om voor te loop nie, maar ook oor om te leer hoe om ander op te lig, by te staan en saam te werk,” het Celeste uitgebrei.

Sy het verder verduidelik die kamp is daarop gemik om selfvertroue te bou en leiers te leer hoe om uitdagings met ‘n positiewe gesindheid aan te pak. Met modderkolle op hul gesigte en breë glimlagte het die leiers aan die einde van die kamp huis toe gegaan met nuwe herinneringe, waardevolle lewenslesse en ‘n stewige gevoel van eenheid.
“Ons is gereed vir ‘n wonderlike jaar saam met hierdie dinamiese span!” het Celeste afgesluit.



